News

Uitsetting van Mooibank-inwoners sloer

Die grond wat aan beide die munisipaliteit en departement van landbou behoort, is in Januarie 2021 beset.

Potchefstroom – Die JB Marks Munisipaliteit se prokureurs het vir uitstel tot 10 Junie gevra om die saak met die munisipale bestuurder te bespreek.

Die onwettige grondbesetters in die Mooibank-omgewing sal nog ‘n ruk langer ‘n kopseer vir inwoners in die Suiddorp wees.

Cindy du Plessis, ‘n prokureur wat namens die Potchefstroom-Suid Eiendomeienaarsvereniging optree, het in ‘n brief aan die JB Marks Munisipaliteit en Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming vir spoedige optrede geëis.

Du Plessis het juis in die bogenoemde brief verlede week namens die inwoners geëis dat die uitsettingsbevel teen gister (6 Junie) uitgevoer moes word.

Die Herald het Du Plessis vandag gekontak rakende die terugvoer van die munisipaliteit en departement van landbou rondom die inwoners se eise soos in die brief vervat.

“Die JB Marks Munisipaliteit se prokureurs het vir uitstel tot 10 Junie gevra om die saak met die munisipale bestuurder te bespreek. Die Departement van Landbou het ontvangs erken en gevra dat ek hofstukke vir hul aanstuur,” vertel Du Plessis.

 

Die munisipalteit en department het reeds in Maart verlede jaar ‘n uitsettingsbevel van die hooggeregshof in Mmabatho bekom. Volgens die hofbevel mag die uitsetting eers na die einde van die Covid-19 ramptoestand uitgevoer word.

Volgens Du Plessis is die ramptoestand alreeds in April vanjaar opgehef en dat daar genoeg tyd vir die munisipaliteit en departement was om die uitsettingsbevel toe te pas. Sy verwys ook na die berig in die Potchefstroom Herald (11 Mei) waar die burgemeester in teenstryding met die uitsettingsbevel beloftes aan Mooibank-inwoners maak.

“Die belastingbetaler se geld is in daardie aansoek vir die uitsettingsbevel gebruik. Die burgemeester (Gaba Ka Qhele) kan nie vir die onwettige besetters sê dat hulle nie geskuif gaan word nie, veral nadat daar ‘n uitsettingsbevel uitgereik is nie. Die munisipaliteit kan nie eers dienste vir wettige inwoners van Hillside View aanlê nie. Daar was ‘n skriftelike aksieplan en dit is tot op datum sedert Oktober 2020 nog nie uitgevoer nie.”

 

Related Articles

Back to top button