NewsNews

Seuntjie met hartkondisie veg na Covid-19 en beroerte

Weens sy hartkondisie, waar hy met ‘n klein gaatjie in sy hart gebore is, was Covid-19 lewensgevaarlik. Dit is juis tydens sy behandeling vir Covid-19 dat hy ‘n beroerte in die hoësorgeenheid gekry het.

‘n 11 maande oue seuntjie met ‘n Tetralogy of Fallot-hartkondisie veg om sy lewe nadat hy Covid-19 opgedoen en ‘n beroerte gekry het wat hom aan sy linkerkant verlam gelaat het.

Keean Claase is al vir weke in die Netcare Sunninghill Hospitaal in Sandton waar hy aansterk. Die splint aan sy linkerhand is om te verhoed dat sy handjie krom trek.

Keean Claase is verlede maand in die Netcare Sunninghill Hospitaal in Sandton opgeneem nadat hy Covid-19 en die Bocavirus opgedoen het wat slym op sy longe veroorsaak het. Weens sy hartkondisie, waar hy met ‘n klein gaatjie in sy hart gebore is, was Covid-19 lewensgevaarlik. Dit is juis tydens sy behandeling vir Covid-19 dat hy ‘n beroerte in die hoësorgeenheid gekry het.


“Keean sou amper ingaan vir ‘n operasie vir sy TOF-hartkondisie en ons het alles gedoen om seker te maak dat hy nie siek word nie, omdat hy maklik vatbaar is. Ons het op ‘n dag medisyne gekoop en toe ons terug was by die huis, kon ons sien iets is nie reg. Sy voete was potblou en hy was spierwit.
“Ek het toe dadelik die dokter, dr. Greenwood Sinyangwe, die kardioloog by Sunninghill waarmee ons ‘n pad stap, gebel. Hy het gesê dat dit ‘n episode is en ons dadelik hospitaal toe moet gaan,” sê Keean se pa, Francois.
Keean is na Mediclinic Potchefstroom gehaas, waar hy suurstof toegedien is.


Daar is toe ook uitgevind dat hy Covid-19 het. Daarna is hy na die Netcare Sunninghill Hospitaal oorgeplaas waar hy steeds na sy beroerte gemonitor word.
“Dit was baie erg toe hy ‘n beroerte ook gekry het. Die dokters het eers Warfarin (‘n bloedverdunner) toegedien, maar omdat die medikasie nie vir kinders is nie, moet daar eerder ‘n duurder medikasie gegee word.”
Na Keean se beroerte is daar die hoop dat hy goed genoeg sal herstel om weer saam met sy ouers, Francois Claase en Michelle du Preez na Potchefstroom terug te keer.
“Hy hou ook glad nie van al die pype wat in hom is nie en is maar ongemaklik en wil huis toe gaan. Ons behoort teen Vrydag, 10 Junie te hoor of hy huis toe kan gaan. Die oorspronklike operasie is nou eers buite die kwessie, aangesien Keean weens die beroerte eers fisioterapie sal moet ondergaan. Daar lê nog ‘n lang pad voor.”


Volgens Francois is sy gesin deur ‘n baie moeilike tyd, nie net emosioneel nie, maar ook finansieel aangesien hulle groot verliese gelei het om seker te maak dat hul babaseuntjie gesond bly. Hulle is wel dankbaar vir die Here se voorsiening en almal se gebede.

“Ons het nie heenkome gehad vir die eerste twee aande in Sandton nie en moes in die parkeerarea slaap. Ons is dankbaar dat ‘n ou vriend van my, Jan Storbeck (Hestrie Els se broer) en sy vrou, Tanya, hulle deure vir ons oopgemaak het in die tyd hier waar ons kos en ‘n dak oor ons kop het,” noem Francois dankbaar.

Die Claase-gesin bedank ook die dokters by die Netcare Sunninghill Hospitaal vir hulle vinnige reaksie en wat alles doen om vir Keean te help.
Die publiek kan Keean bystaan met ‘n finansiële bydrae in die volgende rekening:

CF Claase
ABSA
Spaarrekening
Rekeningnommer: 9099950158
Verwysing: Keean Claase

Vir meer inligting kan Francois by 071 155 9691 geskakel word.

https://potchefstroomherald.co.za/108418/seuntjie-met-hartkondisie-veg-na-covid-19-en-beroerte/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button