NewsNews

Bejaarde vrou steeds kritiek ná woonstel brand

Assessors sal vandeesweek probeer om die oorsaak van die brand te bepaal.

Terwyl ’n brand Saterdagoggend in die vroeë oggendure in die slaapkamer van die woonstel van ’n bejaarde inwoner van die Najaarsrus Tuiste vir Bejaardes gewoed het, het vrywilligers van We Care, die Ngwathe Brandweer, Najaarsrus personeel, Parys Sekuriteit, en paramedici van Parys Medix en FS Emergency Services, hul lewens gewaag om ten spyte van die verwoestende vlamme wat toe reeds dak hoogte gebrand het, en die versmorende rook, die 87-jarige mev. Elizabeth Willemse na veiligheid te bring.
Mev. Willemse is deur die vlamme en rook oorval, en was teen Maandaoggend steeds in ’n kritieke toestand in die intensiewe sorgeenheid van die Potchefstroomse Medi Clinic waar sy onder sedasie en aan ’n ventilator gekoppel is. Sy het benewens die skade aan haar longe ook nierversaking.
Daar kon danksy hulp wat vinnig op die toneel was, betyds gekeer word dat die brand nie van die slaapkamer na die res van die vertrekke en ander woonstelle versprei nie.
Elbé Ferreira, bestuurder van Najaarsrus, het na die voorval net die hoogste lof gehad vir die onbaatsugtige hulp wat verleen is.
Dit word opreg waardeer.
Die noodoproep is ontvang skaars nadat daar opgeruim is by ’n fondsinsamelingsfunksie wat Vrydagaand by Stonehenge ten bate van Najaarsrus en Vrystaat Versorging in Akie gehou is.
Die omgee van ’n gemeenskap in tyd van nood is ook in 2017 by die tehuis ervaar toe mense onmiddellik ingespring het om te help toe ’n brand in ’n ander woonstel op die terrein ontstaan het. Die brand was toe veroorsaak deur ’n kortsluiting by ’n bedlampie, maar kon danksy vinnige hulp ook geblus word voordat dit van die slaapkamer na ander vertrekke in die woonstel kon versprei.
Voorvalle soos hierdie het weer die dringende nood uitgewys vir ’n vuurvegter en rookverklikkers vir die tehuis. Mense wat moontlik bereid is om te help hiermee kan Elbé skakel by 082 553 8542.

Related Articles

Back to top button