NewsNews

Voorwaardelike goedkeuring laat vrae by sakelui, kerke

Hoewel daar ander ondernemings met soortgelyke drankregistrasies in die dorp se hoofstraat is, meen sakelui dat dié ondernemings bestaansreg het omdat dit restaurante is wie se kliëntebasis families is en/of drank nie op die perseel verbruik word nie.

Daar is opnuut kommer onder sakelui en veral kerke oor Wintics Trading CC se aansoek by die Vrystaatse Drankraad vir die verskuiwing van die taverne drankregistrasie vir die Big Daddy Tavern van die perseel oorkant die taxi-staanplek by Kruisstraat 32 (Father Balinkstraat), na Kruistraat 29 (Father Balinkstraat). Laasgenoemde is voorheen gedeeltelik as mediese sentrum en kantore gebruik.
Dit nadat bekend geword het dat die Ngwathe Munisipaliteit voorwaardelike goedkeuring aan Wintics Tradding CC gegee het vir die bedryf van ‘n kroeg en restaurant te Kruisstraat 29, onderhewig aan die goedkeuring van Wintics se aansoek by die Drankraad.
Die Ngwathe Munisipaliteit het verlede week in antwoord op skrywes van Lou van Wyk prokureurs Ingelyf, oor watter prosedures gevolg is vir die voorwaardelike goedkeuring, wal gegooi en gesê dat ‘n verpligte openbare deelnameproses gevolg sal word, wat die Drankraad se verantwoordelikheid is.
Die Dorpsaanlegskema van 1965 bepaal duidelik dat die spesifieke eiendom waarvoor aansoek gedoen is, gesoneer is vir ‘spesiale besigheid’. Dit sluit in winkels, besigheidspersele, residensiële geboue en woonhuise. Daar kan wel aansoek gedoen word by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir spesiale toestemming vir besigheidsregte vir die bedryf van ‘n plek van vermaak, ‘n saal, plek van onderrig of spesiale gebou.
Maar dié spesiale toestemmig kan net ingevolge die SPLUMA wet van 2013 toegestaan word as geinteresseerde en geaffekteerde partye direk aangrensend tot die eiendom, ook geken word deur ‘n proses van openbare deelname om hul goedkeuring of besware te gee. Dit het nog nie gebeur nie.
In ‘n prokureurskrywe aan die munisipaliteit is gemaan dat die spesiale toestemming wat nodig is vir só ‘n aansoek nie onder die jurisdiksie van die Drankraad val nie, maar dat die munisipaliteit self sal moet pa staan vir die openbare deelnameproses.
Nou word gevra hoe die voorwaardelike toestemming gegee kon word sonder dat die aansoek terugverwys is na die Raad vir bespreking, soos wat met verlede week se Raadsitting gedoen is om ‘n soneringsaansoek van ‘n ander drankhandelaar te bespreek, of dat aangrensende ‘bure’ geken is voordat die voorwaardelike goedkeuring gegee is.
Dié gebou waaroor die herrie gaan het twee kerke aangrensend daartoe. Die dorp se Baptiste Kerk is regoor die gebou en die NG Moedergemeente is minder as 20m van die gebou. Nog vyf ander kerke is binne 300m van die perseel. Dit sluit onder andere in die Pinkster Protestantse Kerk (250m), die Moslem Moskee (300m) en die Metodiste Kerk (150m).
In die Vrystaatse Dobbel- en Drankwet van 2010 word pertinent deur die Drankraad uitgewys dat drankregistrasies nie binne 500m bedryf mag word van ‘n plek van aanbidding of ‘n opvoedkundige instelling nie. Die kennisgewing vir aansoek vir die verskuiwing van die drankregistrasie is op 4 Maart in die provinsiale staatskoerant gepubliseer, maar hierin word geen melding gemaak van die kerke of opvoedkundige instellings binne die 500m afstand wat uitgewys word in die wet nie.
Ná die publikasie van die kennisgewing vir die aansoek was daar tyd tot 28 Maart om besware in te dien.
Verskeie eedsverklarings van sakelui, die kerke wat geraak word en die Joyous Kids dagsorgsentrum in Dwarsstraat wat 200m van die perseel is, saam met meer as 1 400 handtekeninge op ‘n aanlynpetisie, gedryf en geborg deur besighede in die dorp, is vroeër al aan die polisie oorhandig.
Die polisie moet ook ‘n verslag oor die aansoek indien wat deur die Drankraad in aanmerking geneem moet word.
Die eedsverklarings van predikante en hul verteenwoordigers, sakelui, skole en alle ander geaffekteerdes is ook ingesluit in ‘n verslag wat by die Drankraad ingedien is, sowel as by die plaaslike Drankraad inspekteurs.
Die aansoek om die verskuiwing van die drankregistrasie moet nog voor die Vrystaatse Drankraad dien, is aan Gazette bevestig.
Van die grootste besware van die publiek met wie die Gazette gepraat het oor die aansoek, was juis die gebrek aan publieke deelname voor die indien van die aansoek, en dat dit nie plaaslik geadverteer is nie, afgesien van die invloed wat dit op sakebedrywighede in die gebied sal hê. Die vrees bestaan dat dit sal bydra tot ‘n toename in sosiale kwessies soos armoede en drank- en dwelmmisbruik in dié deel van die dorp.
Die vrese blyk nie ongegrond te wees nie. Die eienaar van die gebou waar die taverne voorheen was, het te kenne gegee dat die huurkontrak vir die taverne nie hernu sal word nie, omdat die taverne degraderend was vir die omgewing waar dit bedryf is. Dit het ook ‘n gesondheidsrisiko geskep.
Dit is beaam deur ander sakelui in Father Balinkstraat wat sê dat die taverne ‘n negatiewe impak op hul besighede gehad het, bygedra het tot rommelstrooiing, sosiale kwessies, sekuriteitsprobleme en die steurnis van harde musiek.
Hoewel daar ander ondernemings met soortgelyke drankregistrasies in die dorp se hoofstraat is, meen sakelui dat dié ondernemings bestaansreg het omdat dit restaurante is wie se kliëntebasis families is en/of drank nie op die perseel verbruik word nie.
Die munisipaliteit hou egter vol dat die proses nie afgehandel is nie en dat die voorwaardelike goedkeuring slegs gegee is onderhewig aan die Drankraad se goedkeuring van die aansoek om die verskuiwing van die drankregistrasie. Tog is dit duidelik dat die toestemming om besigheidsregte uit te oefen, op die munisipaliteit berus, en nie die Drankraad nie.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button