NewsNews

Kragstryd: Grondwetlike hof sê eers later

Eskom het met gedwonge munisipale beurtkrag telkens die swaard oor Ngwathe se kop gehou deur die toepassing van ‘n verouderde en lank reeds onvanpaste maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms (NMD).

Parysenaars sal eers later hoor wat die uitspraak van die grondwetlike hof is oor gedwonge munisipale beurtkrag.
Dit nadat uitspraak Maandag voorbehou is in Eskom se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n vroeëre beslissing van die land se Hoogste Hof van Appèl in Januarie vanjaar.
Daar is toe beslis dat Eskom nie meer gedwonge munisipale beurtkrag in die Lekwa en Ngwathe munisipaliteite kan toepas nie.
Tydens Maandagoggend se hofsitting is weer gewag gemaak in vrae en argumente oor die onus wat op staatsdepartemente rus om hul geskille onderling te besleg, en die prima faci reg van verbruikers ten opsigte van basiese dienslewering wat elektrisiteitsvoorsiening insluit.
Die Hoogste Hof van Appèl het vroeër ná ‘n hofstryd van langer as ‘n jaar Eskom se appèl met koste van beide die advokate van die hand gewys toe daar ten gunste van die Lekwa Belastingbetalersvereniging en die Vaal River Development Association (VRDA) beslis is.
Die uitspraak het toe daarop neergekom dat verbruikers in hierdie munisipaliteite nie langer gestraf kon word vir munisipaliteite se onvermoë om hul diensterekening aan die kragreus te betaal nie.
Eskom het met gedwonge munisipale beurtkrag telkens die swaard oor Ngwathe se kop gehou deur die toepassing van ‘n verouderde en lank reeds onvanpaste maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms (NMD). Dit terwyl die NMD vir Ngwathe meer as tien jaar laas aangepas is, ten spyte van dorpsuitbreiding en kommersiële ontwikkeling.
Só het Eskom die munisipaliteit gedwing tot rotasie-beurtkrag wanneer 95% van die NMD gebruik is.
Tydens die appèlverhoor einde 2020 het adv. Shangisa (SC) namens Eskom, verduidelik dat NMD deur die kragreus ingestel word om Eskom-toerusting te beskerm.
Tog is vir jare toegelaat dat die NMD oorskry is met boetes wanneer die perk oorskry word. Sedert 2011 was die Ngwathe munsipale raad herhaaldelik onsuksesvol in sy aansoek by Eskom om die NMD te verhoog.
Eskom het vroeër aangedui dat aansoeke vir verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer.
Parys se jarelange kragstryd weens sy enorme agterstallige skuld aan die kragreus, is in 2020 op die spits gedryf toe sakelui en inwoners van Parys swaar gebuk gegaan het onder gedwonge munisipale beurtkrag telkens wanneer elektrisiteitsverbruik naby aan die NMD-perk was.
Die munisipale beurtkrag waartoe Eskom Ngwathe gedwing het, is boonop ook toegepas in tye wanneer die kragreus self nasionale beurtkrag ingestel het. Die katastrofiese gevolg was dat sakelui en inwoners wat meestal voorafbetaal vir krageenhede, soms vir tot agt ure per dag sonder krag was. Die uitspraak van die grondwetlike hof sal na verwagting eers in Junie bekend wees.
* Advokate Herman van Eeden (SC) en Danie Wijnbeek verteenwoordig die Lekwa Belastingbetalersvereniging en die Vaal River Development Association (VRDA) onderskeidelik, met as opdraggewende prokureurs, Lou van Wyk namens die VRDA en Andreas Peens namens die Lekwa Belastingbetalersvereniging.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button