News

Herwinningsaanleg kom om dorp skoon te hou

Herwinningsaanleg kom om dorp skoon te hou

Die Ngwathe Warriors is tans in die proses om ‘n samewerkingsooreenkoms met die groep JCR Enviromental and Recycling te beklink vir die bedryf van ‘n herwinningsaanleg waar alle droë afvalprodukte herwin en versend gaan word.
Die terrein waar die herwinningsaksie gaan plaasvind is reeds geïdentifiseer en huurooreenkomste geteken. JCR Enviromental and Recycling is spesialiste op die gebied van herwinning en is reeds etlike jare in die bedryf in Johannesburg en omliggende gebiede.
Die weeklikse skoonmaakaksie van die Ngwathe Warriors in Parys se hoofstraat sal uitgebrei word en voertuie beskikbaar gestel word om op ‘n daaglikse basis droë produkte na die aanleg wat in Basapark gevestig word, te bring.Die gedagte is om uiteindelik met die skoonmaakaksie in die dorp, herwinning en produsering van nuwe produkte uit herwonne grondstowwe, werksgeleenthede te skep en selfs nuwe geleenthede daar te stel vir entrepreneurs, sê Braam Cilliers uit wie se inisiatief om rommelstrooiery in Parys hok te slaan, die Ngwathe Warriors gebore is.
Die herwinningsaanleg sal volgens beplanning op 1 Junie vanjaar in bedryf wees. Inwoners en besighede se samewerking is nodig om dan herwinning van droë en nat produkte reeds by hul huise of besighede te doen voordat dit op straat geplaas word, waar dit deur die voertuie van JCR opgelaai en verwyder sal word. ‘n Twee kleur sak identifisering sal hiervoor gebruik word. Huiseienaars, inwoners en sakelui sal aangemoedig word om wit of groen sakke vir hul droë produkte, en die gewone swartsak vir nat produkte te gebruik.
Swartsakke sal deur die bestaande munisipale vullisverwyderingsvoertuig en munisipale personeel verwyder word, en alle ander gekleurde sakke deur JCR voertuie, of deur sakversamelaars.
Die sakversamelaars sal ingelig, en sover moontlik opgelei word om droë en nat produkte te onderskei, en hul droë produkte dan aan die herwinningsaanleg te lewer, sê Braam.
Tot 29 droë produkte sal herwin word, om uiteindelik uit Parys te versend. Só word gehoop om al die gemors wat tans in ons strate lê, te verwyder.
Die 29 produkte sluit in alle papier en karton, houtprodukte, alle soorte plastiek en verpakkingsmateriaal, alle glasprodukte, en blikkies en staalprodukte.
Die herwonne produkte sal eers na bestaande aanlegte buite Parys geneem word vir hergebruik. Soos die projek vorder sal herwonne produkte as grondstowwe plaaslik verwerk word in nuwe herbruikbare produkte, om só besigheidsgeleenthede en werkskeppingsprojekte te skep.
Die probleem met die bemorsing van sypaadjies om net sekere produkte te herwin, sal aangespreek word deur die bekendstelling van ‘n meer volledige herwinning van droë produkte.
Die plan is om ook besighede, inwoners en skole te betrek om strate skoon en netjies te hou. Met die bewusmakingsaksie waarby skole en kleuterskole betrek word, gaan herwinning van verskillende produkte, en die groter doel van ‘n skoon omgewing, die basis vorm van die projek. Versamelde produkte sal dan op uitgewysde plekke vir herwinning geplaas word.
Die kinders sal dan op een of ander wyse vergoed word vir produkte wat by skole gelewer word. Meer inligting hieroor sal gefinaliseer word met skoolhoofde en personeel.
Die karakter, Whatty (kort vir Ngwathe) en sy alter ego sal deurlopend aksies loods in die dorp en by skole ter bewusmaking van ‘n skoon omgewing. Daarbenewens sal gastehuise, lodges, vakansieplase, restaurante, kleinhandelaars, garages, die taxibedryf, ingenieursondernemings, die landboubedryf, kerke en aftreeoorde ook betrek word.
Die poging deur die vorige burgemeester gaan in samewerking met die huidige burgemeester herleef in die program, “Adopt a spot”.
Hiermee sal parke opgegradeer word en die dorpsingange en deurgange verfraai word. “Ons vertrou en glo dat alle inwoners en sakelui op een of ander wyse betrokke gaan en wil raak by hierdie plan van herstel. Dit moet aanvaar word dat Rome nie in een dag gebou is nie, nog minder die verval van Parys en omliggende dorpe, en sal dit daarom tyd neem vir die projek om vrugte af te werp,” sê Braam.
Meer oor Ngwathe Warriors
Ngwathe Warriors is gebore uit die inisiatief van Braam Cilliers wat besorgd was oor rommelstrooiery in die dorp. Saam met vier werklose mans het hy begin om Breëstraat tweeweekliks skoon te maak. Daar is dromme gekoop wat geverf en op strategiese plekke geplaas is, en stadig maar seker het die inisiatief momentum gekry.
Sporadiese skenkings deur inwoners en besigheidseienaars het gehelp om die aksie aan die gang te hou, en is daar toe besluit om met die hulp van Whatty groter bewusmaking ook onder veral skoolkinders te skep om die dorp weer skoon en netjies te kry en te hou.

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button