NewsNews

Klagte teen speurders van perdemishandelingsaak ingedien

Klagte teen speurders van perdemishandelingsaak ingedien

AfriForum se vervolgingseenheid wat namens die Nasionale Dierebeskerming Vereniging (NDBV) optree, het twee speurders by die Noordwes provinsiale polisiekommisaris, Lt. Gen. Sello Kwena, verkla.

Twee polisiespeurders is die afgelope week verkla weens die feit dat daar weinig vordering sedert 2018 in ‘n dieremishandelingsaak teen die Suid-Afrikaanse Weermag se spesiale vaardigingseenheid gemaak is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat namens die Nasionale Dierebeskerming Vereniging (NDBV) optree, het dié twee speurders by die Noordwes provinsiale polisiekommisaris, Lt. Gen. Sello Kwena, verkla.

Hierdie saak handel oor perde wat uitgehonger by die Suid-Afrikaanse Leer se spesiale infanterie-eenheid (Potchefstroom basis) in April 2018 aangetref is.

Die NDBV het destyds beslag op 69 perde gelê. Altesaam moes 25 perde as gevolg van hulle swak toestand van kant gemaak word. Meeste van die perde is na ‘n plaas in Gauteng verplaas.

Ten spyte daarvan dat daar reeds vier jaar verloop het sedert die indiening van die aanklagte van dieremishandeling, en die feit dat die NDBV omvattende saakdossiere saamgestel en aan die polisie verskaf het vir verdere ondersoek, blyk dit dat daar nog geen vordering met die ondersoek was nie.

“Dit blyk dat die ondersoekbeamptes op onverklaarbare wyse voete sleep met hierdie ondersoek. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat die SAPD óf onbekwaam is óf beïnvloed word om die saak te laat vaar. Ons maak die onontwykbare gevolgtrekking die SANW en die verdagtes (in plaas van die polisie) die tempo van die ondersoek rig,” het Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, genoem.

Noordwes polisiewoordvoerder, kol. Adele Myburgh, het bevestig dat die polisie die klag van AfriForum ontvang het en dat ‘n departementele ondersoek ingestel is.

“Polisiebestuur is verbind tot professionele dienslewering en het die saak geprioritiseer by ontvangs van die diensklagtes.”

Myburgh noem dat polisie verder enige persoon nooi wat nie tevrede is met die diens nie om dit asseblief aan te meld by die betrokke stasiebevelvoerder of die Provinsiale Diensklagte-lynnommersel by 082 856 0995.

Related Articles

Back to top button