News

Whatty Warriors op die oorlogspad om dorp skoon te kry

Die Whatty Warrios sal voortaan ook skolebesoeke doen in samewerking met die onderskeie skoolhoofde, en daar is reeds daarmee begin.

Die afgelope naweek was die strate van Parys die ene bedrywigheid, met heelwat aktiwiteite wat die dorp besoekers kon bied. Parysenaars sou egter opgemerk het hoe skoon die dorp se hoofstraat is, en dit alles te danke aan die Whatty Warriors.
Besorgd oor die rommelstrooiery in die dorp het Braam Cilliers, met ‘n Gideonsbende van vier werklose mans, begin om Breëstraat tweeweekliks skoon te maak. Daar is ook dromme aangekoop wat geverf en op strategiese plekke aangebring is.
Stadigaan het die inisiatief momentum gekry en het belanghebbendes hul by Braam aangesluit. Sporadiese skenkings deur inwoners en besigheidseienaars het gehelp om die aksie aan die gang te hou.

 

Daar is toe besluit om met die hulp van ‘n karakter, Whatty (kort vir Ngwathe), groter bewusmaking onder veral skoolkinders te skep. Die groep het na aanleiding daarvan, hulself die Whatty Warriors gedoop. Whatty vergesel die skoonmaakspan op hul rondtes. Kyk uit vir die koddige figuurtjie met die oranje hare.
Met Nampo wat eersdaags begin en heelwat verkeer wat dan deur Parys sal beweeg, sal daar boonop ekstra moeite gedoen word om die hele hoofstraat vanaf die Sasolburg-ingang na die dorp tot by die Vredefort-ingang na Parys skoon te maak. Benewens vullis wat opgetel word, sal die gras op sypaadjies langs die dorp se hoofstraat ook in die volgende twee weke gesny word om seker te maak die dorp vertoon netjies vir besoekers wat deur die dorp ry. As jy voel dat jy ‘n bydrae kan lewer en by hierdie opwindende inisiatief betrokke wil raak of selfs swartsakke wil skenk, kan jy Braam Cilliers by 072 779 4079 of Anette by 082 768 4336 skakel.
Die Whatty Warrios sal voortaan ook skolebesoeke doen in samewerking met die onderskeie skoolhoofde, en daar is reeds daarmee begin. ‘n Intensiewe herwinningsinisiatief is ook in die vooruitsig. ‘n Perseel is geïdentifiseer en sal eersdaags operasioneel wees.
‘n Volledige artikel sal later volg om die publiek hieroor in te lig.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button