News

Schoemansdriftbrug: Vaal het nog net drie keer hier by die 5m gevloei

Schoemansdriftbrug: Vaal het nog net drie keer hier by die 5m gevloei

Nie net Parysenaars nie, maar mense van oraloor het die afgelope weke die styging van die Vaalrivier se watervlak met belangstelling dopgehou. Ná swaar reën en sluise by die Vaaldam oopgemaak is, het die water stadig maar seker gestyg totdat die Schoemansdriftbrug in die Vredefort Koepel, soos in Januarie vanjaar, gesluit is vir voetgangers en verkeer toe water oor die brug begin spoel het. Die brug is sedertdien weer oop vir verkeer nadat die watervlak gedaal het.

Die foto is geneem in April toe die Schoemansdriftbrug onder water was. Die brug is sedertdien weer oop vir verkeer. Foto: Sue Jansen van Rensburg.

Interessant genoeg het die Vaalrivier al baie maal oor die Schoemansdriftbrug gevloei, maar was daar nog net drie keer wat die watervlak van die rivier by die brug by die 5m gevloei het.
Dit was ten tye van die vloed in Februarie 1944 (5,303m), Januarie 1975 (5,828m) en Januarie 2011 (5,138m).
Hierdie brug is vandag nog ‘n enkelspoorbrug. Gedurende 2021 is daar noodsaaklike instandhouding gedoen aan die brug, waarna die rivier reeds twee keer oor die brug gevloei het.

‘n Lugfoto van die brug. Foto: Verskaf

Maar wat is die storie van die Schoemansdriftbrug? L.C. Beetge skryf:
Schoemansdrift was jare gelede een van die besigste wadriwwe in die omgewing, veral ná die ontdekking van goud en diamante in die Koepelgebied. Hierdie drif is na die Schoemansfamilie vernoem.
Die plaas Schoemansdrift wat teenaan ‘n drif met ‘n groot pont geleë is, het as belangrike halfwegstasie gedien.
Dié brug by die drif oor die Vaalrivier op die oorspronklike plaas Kromdraai (noord van die Vaalrivier-omgewing in Potchefstroom), is een van die oorgange tussen die destydse Transvaal en die Vrystaat.
Sedert Augustus 1855 het die eienaars van Kromdraai telkemale verwissel van die staat na SJ Kruger tot 1884 na GP Schoeman en mede-eienaars. In 1884 tydens die goudstormloop, het ‘n onderverdeling van dié plaas plaasgevind.
M.J. Schoeman word na 1890 die eienaar van Kromdraai gedeelte 165, genaamd Schoemansdrift. Ses jaar later, in 1896, verkoop Schoeman aan Petrus Jacobus Joubert.
‘n Jong man van 20, ene Salomon Gerhardus Jansen van Rensburg, keer ná die Anglo Boere-oorlog in 1902 terug na sy omgewing vanaf Ford Ahmednagarkamp, Indië, waar hy as krygsgevangene gehou is. Hy woon en boer as bywoner op Schoemansdrift. In 1918 koop hierdie einste bywoner Schoemansdrift by genl. Piet Joubert vir 200 pond.
Daar is ‘n hele aantal Vaalrivierdriwwe waar mense die rivier oorgesteek het. Sommige natuurlike oorgange waar daar klipplate was, en andersins is daar klippe op geskikte plekke gepak gedurende droë seisoene.
Hieronder tel Skandinawiëdrift (vroeër Coquisdrift, later Forssmans/Erasmusdrift), Feest- en Grootedrift/Dewetsdrift, Welkomdrift/Botha’s drift, Schoemansdrift, Venterkroondrift, Die posman se drift, Vanvurensdrift/Schurwedraaidrift/Barnardsdrift/Duplessisdrift, Kommandodrift, Rensburgdrift, Oudedrift/Twisdrift en Doppiesdrift, Dekocksdrift en die minder bekende Viljoensdrift en Lindequesdrift.
Die Schoemans en later van 1918 af, die Jansen van Rensburgs aan die Transvaal-kant, het oornagfasiliteite aan vriende, transportryers en reisigers voorsien.
Daar was ‘n paar klein rondawels vir slaapplek, en wanneer dié beset was, of wanneer die rivier té vol was en die pont nie kan loop alvorens die water gesak het nie, is die besoekers na die huis verwys,
Die diere is uitgespan en gevoer, en reisigers het aangesit vir ‘n maal. Die gasvryheid van die Jansen van Rensburg-familie het geen perke geken nie, al was dit vir vier dae aaneen.
Teen die laat 19de eeu was daar doeane-beamptes en ‘n tolhouer gestasioneer en party driwwe en ponte is gesluit om die verkeer te beheer.
Teen 1890 het die afwesigheid van oorgange, hetsy brûe en ponte/driwwe die handel en verkeer gestrem.
Vroeër jare het die jong mans skuitjies gebruik om die rivier oor te steek. Só ook die skoolkinders wat aan die Transvaalkant van die rivier gebly het, en aan Vrystaatkant skoolgegaan het. Die Jansen van Rensburgs het die bootjie aan ‘n ou Wilgeboom vasgehaak en vir Banket, die donkie wat geduldig in ‘n kampie gewei het, voor die treppie ingespan en Reitzburg Laerskool toe gesukkel.
In 1937, 22 jaar ná die opening van Parys se brug in 1915, is die kontrak aan Neil Mackey toegeken om ‘n brug oor die Vaalrivier verder stroomaf by Schoemansdrift te bou. Die mate van hierdie brug by voltooiing was 3m breed, met twee voetpaaie van ongeveer 60cm elk, en ‘n randsteen van 30cm hoog aan beide kante.
Die brug is op 11 Oktober 1937 voltooi, maar nie sonder probleme nie. Weersomstandighede en die vloed aan die begin van 1937 het die bouwerk met 51 dae vertraag.
Verder het die staat aangedui dat die brug 90cm hoër gebou moes word, nadat die pilare van die brug reeds tot by die oorspronklike kontrakhoogte voltooi is.
Dit is met nostalgie dat die Koepel-gemeenskap terugdink aan die huidige Schoemansdriftbrug wat vir ‘n tydperk van 85 jaar reeds diens doen. In besonder die Jansen van Rensburgs, eienaars van die plaas Schoemansdrift vir 103 jaar en vier geslagte.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button