NewsNews

Vyfde vlaag Covid: Paasfees/godsdienstige feeste moontlik die oorsaak

Hospitaal opnames neem ook toe

 

Net toe ons dink dat alles nou weer terug is na normaal en ons ons lewe sonder Covid-19 kan voortsit, het dr. Joe Phaahla , minister van gesondheid, verlede week aangekondig dat Suid-Afrika se vyfde vlaag van die virus moontlik vroeër sy opwagting sal maak.

Volgens hom is ’n beduidende toename in nuwe gevalle die afgelope twee weke aangeteken wat dalk toegeskryf word aan Paasfees en ander onlangse godsdienstige byeenkomste. Dit sal egter eers oor ’n week duidelik wees of die land die volgende virusvlaag tegemoet gaan, sê dr. Phaahla.

Maroela Media het berig dr. Phaahla se departement is besig om deur 300 000 kommentare op die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies te sif. Dit moet teen volgende Donderdag,  5 Mei gefinaliseer wees, wanneer die ramptoestand opgehef word. Phaahla het Vrydagoggend, 30 April tydens ‘n perskonferensie gesê wetenskaplikes het tot onlangs nog vermoed dat die vyfde vlaag Suid-Afrika teen middel Mei of begin Junie sal tref.

Prof. Salim Abdool Karim, voormalige voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het egter aangedui dat die land op grond van ’n tegniese definisie reeds die vyfde vlaag binnegegaan het. Meer as vyf nuwe gevalle per 100 000 mense word daagliks aangemeld. Daar word egter aangevoer dat die land eers die volgende vlaag sal binnegaan indien meer as 6 237 gevalle per dag vir meer as sewe dae agtereenvolgend aangemeld word.

Meer as 6 300 gevalle is Woensdag aangemeld voordat die getal nuwe gevalle Donderdag weer gedaal het. Die daling kan egter moontlik toegeskryf word aan die openbare vakansiedag waartydens minder toetse gedoen is.

Teen Maandag, 25 April het kenners ’n 137% toename in nuwe gevalle opgemerk.. Hoewel al nege provinsies tans ’n toename in gevalle beleef, kom die meeste gevalle in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap voor. Dié drie provinsies is tans verantwoordelik vir meer as 85% van alle nuwe gevalle. Volgens dr. Phaahla het geen nuwe variant van Covid-19 kop uitgesteek  nie. Slegs veranderinge aan die bestaande Omikron-variant in die vorm van subvariante is opgemerk.

Dr. Richard Lessells, spesialis in oordraagbare siektes verbonde aan die Genomic Sequencing Network, het gesê die twee nuwe subvariante van die Omikron-variant is geïdentifiseer as BA.4 en BA.5. Die twee subvariante is verantwoordelik vir die helfte van die gevalle sedert vroeg April.

Omikron blyk steeds veral jong kinders te raak. Hoewel ’n toename in infeksies regoor alle ouderdomsgroepe opgemerk is, is die meeste infeksies in die ouderdomsgroep 10 tot 14 jaar aangemeld. Die meeste hospitalisasies is by mense ouer as 65. Die land se hospitale verkeer egter in dié stadium nog geensins onder druk nie. Nog geen noemenswaardige toename in sterftes is ook al opgemerk nie.

Die minister en onderskeie kenners het weer eens ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle teen Covid-19 te laat inent en hul opvolg-inentingsdosisse (booster) te ontvang.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button