News

Gedeelte van Mimosa Tuine word nou verlenging vir Hartelusmark

Gedeelte van Mimosa Tuine word nou verlenging vir Hartelusmark

 

Ná jare se erge verwaarlosing en vandalisme by die Mimosa Tuine, gaan die kampeerterrein van die eens spog vakansieoord, uiteindelik weer benut word.
Dié gedeelte van die Mimosa Tuine sal voortaan as ekstra parkeerruimte vir die Hartelusmark aangewend word. Dié mark word al vir jare op die eerste Saterdag van elke maand by Egweni River Lodge langs die oewer van die Vaalrivier gehou. Soos wat die mark uitgebrei het, het die behoefte aan parkering geweldig toegeneem en was daar eenvoudig nie meer genoeg ruimte beskikbaar nie.
Maar dit is nie net ekstra parkeerruimte wat nou beskikbaar sal wees nie. Die terrein sal ook gebruik word om stalletjies vir die Tumahole Arts & Crafs kunstenaars te kan aanbied as verlenging van die Hartelusmark op markdae.
Dit sal ‘n heel nuwe dimensie byvoeg tot die sukses van die mark, en ook blootstelling bied aan hierdie talentvolle groep kunstenaars.
Die organiseerders van die Hartelusmark het ‘n ooreenkoms met die Ngwathe plaaslike munisipaliteit aangegaan vir die gebruik van die ou kampterrein op markdae, en sal die organiseerders in ruil vir die gebruik van dié gedeelte van die oord, die deel netjies en skoon hou. Daar is reeds die afgelope week baie hard gewerk om die terrein voor te berei.

 

Die foto hierbo is hoe die kampterrein by die Mimosa Tuine gelyk het voordat daar die afgelope week skoongemaak is. As jy na die foto’s hieronder kyk kan jy kwalik glo watter verskil daar gemaak is nadat hier nou skoongemaak is. Foto’s: Verskaf

 

 

‘n Positiewe bydrae vir die dorp waar die verval van die Mimosa Tuine al vir jare ‘n bron van kommer en seer in die oog is.
Die organiseerders het egter beklemtoon dat mense moet onthou dat die gebruik van die ou kampterrein nie beteken dat die hele oord nou oop is vir besoekers nie, en dat slegs beweeg kan word op die gedeelte waar die uitstallers gehuisves sal word en wat as parkeerarea gebruik gaan word. Daar sal duidelike aanwysings wees met ‘n nuwe ingangshek via Van Collerstraat regoor die bestaande parkeerterrein van die mark.

Die nuwe ingangshek na die parkeerterrein in die Mimosa Tuine kan hier gesien word. Die hek sal gebruik word op markdae. 

Mense wat hier parkeer sal dan veilig onder deur die brug na die Hartelusmark kan beweeg.
Die parkeerterrein sal reeds met die eerskomende mark Saterdag, 7 Mei gebruik kan word deur mense wat die mark wil bywoon.

 

Related Articles

Back to top button