NewsNews

Pad weer gesluit ná 6 se waterdood

Pad weer gesluit ná 6 waterdood sterf

 

Die R30 tussen Welkom en Allanridge is vir die derde keer vanjaar sedert die pad vroeg Februarie oorstroom  het, vir verkeer gesluit.

Dit volg ná die tragiese dood van ses mense op Saterdag 23 April, toe ‘n 22-sitplek minibus op die R30 tussen Bothville en Allanridge in die water van ‘n pan wat weerskante van die pad loop., beland het. Die ongeluk het sowat 5km van Allanridge gebeur. Vyf mense is ook in die ongeluk ernstig beseer.

Die minibus taxi wat vanoggend in die water van ‘n pan weerskante van die R30 tussen Bothaville en Allanridge beland het. Foto: Verskaf

Volgens Hilary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer is die R30 nou gesluit vir verkeer tot verdere kennisgewing.

Die departement sê in sy verklaring dat die pad nou al verskeie kere oorstroom het, en dat motoriste se gebrek aan samewerking om gehoor te gee aan die spoedbeperking- en waarskuwingsborde weerskante van die pad, bygedra het tot die groot aantal ongelukke en sterftes op die pad.

Die departement het motoriste aangeraai om nou van alternatiewe roetes gebruik te maak tot tyd en wyl die pad weer oopgestel word, omdat die veiligheid van motoriste prioriteit is, en die R30 nie as veilig beskou word  nie, weens die hoë aantal ongelukke en sterftes.

Motoriste wat tussen Allanridge en Bothaville beweeg, moet nou gebruik maak van die S1075 sekondêre pad, en die R719.

Motoriste wat tussen Welkom en Kroonstad beweeg moet van die R34 gebruik maak, en motoriste wat na Orkney ry moet die R76 via Viljoenskroon gebruik.

‘n Baie ernstige beroep ter wille van mense se veiligheid is deur die departement op motoriste gedoen om nie die R30 onwettig te gebruik of verkeerstekens te verwyder, terwyl die pad gesluit is nie.

Mophethe het gesê dat nou gekyk word na addisionele maatreëls om alternatiewe roetes veilig te maak. Ekstra waarskuwingstekens sal ook op die R30 aangebring word om motoriste te waarsku dat die pad gesluit is.

Die R30 tussen  Allanridge en Welkom is ook einde Maart vanjaar met onmiddellike effek gesluit toe ‘n Oos-Kaapse ouerpaar en hul twee dogtertjies van 2 en 4 jaar oud, gesterf het.

Die pad is egter net enkele dae later weer heropen. Verkeersbeamptes is toe opdrag gegee om die pad met flitsende blou ligte weerskante te beman om seker te maak mense slaan ag op die waarskuwingstekens en spoedbeperkingborde wat weerskante van die pad aangebring is. Die verkeersbeamptes was ook die naweek op hul pos, en het motoriste gewaarsku om spoed te verminder.

Verskeie motoriste wat daagliks die pad gebruik het, het al telkens gesê dat hulle meen die pad wel veilig is, maar dat veral die verontagsaming van die waarskuwingstekens en spoed te blameer is vir die ongelukke.

Die vermoede is dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde gedeelte van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg het.

Die meeste ongelukke op die pad het die afgelope twee maande juis saans en in die vroeë oggendure gebeur.

Toe die pad vroeg Februarie oorstroom het ná swaar reën is die teervlak ernstig beskadig, en het ‘n kontrakteur  die padvlak verhoog tot bo die watervlak.

 

 

Related Articles

Back to top button