NewsNews

“Om te sterf was vir hom ’n oorwinning”

“Om te sterf was vir hom ’n oorwinning”

 

“Hy het soveel harte aangeraak deur God se vaderhart te deel sover hy gegaan het. Vanmiddag het Hy jou met ope arms ontvang.”
Só is die naweek geskryf in een van die vele huldeblyke aan Kobus Oelofse wat getuig van die geloofspad wat hy oor jare met baie saam geloop het.
Vir Kobus was die opdraande pad wat hy sedert 2021 met sy gesondheid geloop het nadat hy Covid-19 gekry het, verby op Saterdagmiddag 23 April toe hy aan hart- en nierversaking in die ouderdom van 70 jaar gesterf het, maar die harte en lewens wat hy aangeraak het, is ’n lewende getuigskrif van iemand vir wie sy geloof alles was.
Hy het sovele in die hospitaal, op hul sterfbed en selfs in die tronk besoek, moed ingepraat, geluister. ’n Dierbare en opregte vriend, raadgewer, mentor – iemand na wie jy kon opkyk.
Nadat hy sy loopbaan in die polisiediens weens mediese redes moes laat vaar het, het hy voluit vir die Here geleef, en hom as pastoor bekwaam. Hy was een van die predikers van die God Life Church, en het sy betrokkenheid by berading en die Fathers Embrace inisiatief ’n onmiskenbare invloed op hulle gehad met wie sy pad gekruis het.
Sy laaste woorde op sy sterfbed aan sy seun, Riaan, was die getuienis dat om te sterf vir hom ’n oorwinning was. Vir hom was die Here eerste, en dan sy vrou, sy kinders en kleinkinders wat sy alles was.
Kobus se roudiens is Vrydag 29 April om 10:00 vanuit die Adonai Sali-gemeente op die h/v Schilbach- en Philipstraat.
Hy word oorleef deur sy vrou, Surina, Riaan, Suzanne, Shawn en Anri, en sy ses kleinkinders, asook twee susters, Marianne en Elmarie, wie hy met tere herinneringe agterlaat.

 

Related Articles

Back to top button