News

Potch Piccolo Hersfees gaan propvol kuns en kultuur wees hierdie Mei

Potch Piccolo Hersfees gaan propvol kuns en kultuur wees hierdie Mei

Die fees skop amptelik af op 5 Mei met die teaterproduksie, Agulhasvlakte, wat vroeër vanjaar by die KKNK vir die eerste keer opgevoer is

Die Potch Piccolo Herfsfees is ʼn opwindende kuns- en kultuurfees wat op Donderdag, 5 Mei begin en weer van 12-15 Mei in Potchefstroom voortgesit word. Plaaslike kuns- en kultuurorganisasies, NWU Kunste, Potchefstroomse Museum (J.B. Marks Munisipaliteit) en die Potchefstroom Sakekamer het dit almal moontlik gemaak om ʼn program saam te stel wat musiek en kunsgeesdriftiges opgewonde sal maak.

Volgens die voorsitter van die Herfsfees, Dawid Oelofse, het die inisiatief ontstaan om kunstenaars en kultuurinstansies van Potchefstroom ʼn hupstoot te gee en besigheidsbelange uit te brei.

“Die fees poog om uitvoerende en beeldende kunstenaars blootstelling te gee deur konserte, uitstallings en werkswinkels te hou. ʼn Nasionale teater en musiekproduksie word ook na Potchefstroom genooi, sê Oelofse. Hy noem in dieselfde asem dat die Herfsfees nie daar is om Aardklop te vervang nie.

“Dit is in die eerste plek nie ʼn nasionale kunstefees nie. Dit is ʼn klein fees – vandaar die woord ‘Piccolo’, die kleinste musiekinstrument in ʼn orkes.”

Sandro Trapani, plaaslike beeldhouer, bied ‘n beeldhouwerkswinkel aan wat oor twee dae (Vrydag, 13 en Saterdag, 14 Mei) strek. Belangstellendes kry hier die geleentheid om ‘n borsbeeld van hulself te maak. Geen vorige ondervinding in beeldhouwerk is nodig nie. Foto: Verskaf

Oelofse sê dat die Herfsfeesprogram nie net uit kuns- en musiekproduksies bestaan nie, maar ook uit kultuuraktiwiteite sodat mense weer van voor af bewus kan word van die kultuurskatte wat ons lewe plaaslik verryk. Hy noem dat historiese toere, museumprogramme en ʼn Totius-gedenklesing ook deel van die program is.

“Ons waardeer ons kultuurerfenis soveel meer na die donker tye tydens die inperking van die Covid-pandemie, veral nadat twee nasionale gedenkwaardighede, die ou Viktoriaanse Offisierswoning (ca.1902) op Witrand se terrein en die pragtige stasiegebou (1919) in Kaaps- Hollandse styl, gedurende die Covid-pandemie afgebrand het. Ons ry elke dag verby die President Pretoriusmuseum en die Totiushuismuseum maar ons stop nie om meer oor die geskiedenis van Potchefstroom te leer nie. Dié fees sal jou inlig en vermaak”, sê Oelofse.

‘n Toneel uit Agulhasvlakte wat op Donderdag, 5 Mei vir die publiek opgevoer word. Dié toneelstuk is vroeër vanjaar vir die eerste keer by die KKNK opgevoer. Foto: Verskaf

Die fees skop amptelik af op 5 Mei met die teaterproduksie, Agulhasvlakte, wat vroeër vanjaar by die KKNK vir die eerste keer opgevoer is. Dit sluit aan by die lewensoriënteringsprojek van Graad-11 leerders en word ook tydens skoolure by twee hoërskole opgevoer.

“Die toneelstuk skep ʼn interaktiewe geleentheid waar die akteurs na die opvoering in gesprek met die leerders tree”, voeg Oelofse by. Ander hoogtepunte op die program sluit ʼn sonsakkonsert by Lekwena (die wildlandgoed net buite Potchefstroom) in waar veldvoertuie konsertgangers na ʼn koppie vervoer waar hulle ʼn sonsondergang kan beleef terwyl hulle na die Mooirivier-kwintet onder leiding van André Oosthuizen luister.

Dan is daar ook ʼn erkenningsfunksie waar ʼn spesiale toekenning aan die Suid-Afrikaanse aktrise en skrywer, Susanne Beyers, gemaak word. Tydens dié funksie sal sy ook ʼn boekvoorlesing doen. Aktiwiteite op die visuele kunsspyskaart sluit ʼn tweedag werkswinkel in van die plaaslike beeldhouer, Sandro Trapani, wat leerlinge sal leer hoe om ʼn borsbeeld van hulself te maak.

Daar is ook kunsuitstallings wat open en ʼn Potch Rocks-werkswinkel waar jy sal leer om dekoratiewe spoelklippe te verf en aan ʼn opwindende soekspeletjie deel te neem.

Tydens die fees word ‘n spesiale toekenning aan Susanne Beyers, Suid-Afrikaanse aktrise en skrywer, oorhandig vir haar bydrae tot boekvoorlesing. Sy doen ‘n voorlesing tydens die geleentheid. Foto: Lisa van Deventer

Musiekliefhebbers sal weer die voorreg hê om na die NWU Simfonieorkes te luister en konserte van twee wêreldklas-kore onder leiding van Kobus Venter by te woon.

Nog ʼn hoogtepunt is ‘n Big Band-orkes onder leiding van Eddie Clayton wat musiek sal maak wanneer gaste aansit aan ʼn kontreitafel waar ʼn vyfgangmaaltyd met wyn deur Christa Galli voorberei en bedien sal word. Die volledige Potch Piccolo Herfsfeesprogram sal vanaf Vrydag, 22 April op sosiale platforms en in die media bekendgemaak word.

Besoek die webwerf www.potchpiccolo.co.za om solank na die program te kyk. Kaartjies word deur Web Tickets aanlyn en in persoon by jou naaste Pick ʼn Pay verkoop. Hou sosiale media en die media dop om uit te vind wanneer kaartjies beskikbaar sal wees.

Vir navrae, kontak potch.piccolo.herfsfees@gmail.com of skakel Rinus Fleischmann by 084 339 6013.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button