News

Groot skade naby dorp se bekende hangbrug

Hier is groot skade

Die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys is seker een van dié dorp se bekendste toerisme bakens, maar hier net so regs van die brug is nou groot skade waar die water die grond onder die pad uitgekalwe  en laat inval het.  

Die skade is net regs van Parys se bekende hangbrug teen die rivieroewer waar die water die grond onder die pad uitgekalwe het. Foto: Selma Kok

  Die skade is reg by die inligtingsbord wat in 2013 hier opgerig is met ‘n gemeenskapsprojek waar ‘n handjievol vrywilligers toe begin het om die brug te verf en die draadwerk te herstel om die brug wat in 1919 gebou is, weer in ere te herstel. Daarna is oor die jare baie moeite gedoen om die oewer hier by die hangbrug skoon en netjies te hou vir besoekers, en gereeld graffiti teen die brug toe te verf.

Die projek om die hangbrug netjies te maak,  is destyds gebore uit die inisiatief van ‘n groepie vroue onder leiding van Elize Bosman en Tanja Holtzhausen, wat die bal aan die rol gesit het, en het hulp toe spontaan uit alle oorde gekom sodat selfs  betonbankies en die inligtingsbord met die geskiedenis van die brug wat bekend is, en inligting oor voëllewe hier opgerig kon word.

 

In 2020 is ‘n soortgelyke gemeenskapsprojek weer geloods om die brug te verf.

 

Ongelukkig is daar vandag min bekend oor die kontrakteur en die geskiedenis van hoe die brug gebou is, maar een ding is seker, oor jare het Parys se hangbrug nog nie sy bekoring vir Parysenaars of besoekers aan die dorp verloor nie, en is dit steeds een van die mees gefotografeerde toeriste-aantreklikhede vir die dorp. Of dit op brosjures, in tydskrif-aftikels of TV-programme oor Parys is – jy kan seker wees die hangbrug sal daar wees. Voeg dan daarby die hordes slotte wat mense al hier aan die hangbrug kom hang het wat op sigself iets is om te sien.

Die slotte aan die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys is op sigself ‘n toerisme aantreklikheid die afgelope jare. Foto: Liezl Scheepers

Twee jaar gelede het die bejaarde mnr. Jan Pretorius van Parys vertel hoe hy en drie werkers in die jare 1969/70 verantwoordelik was vir die groot taak om die houtplanke op die brug se loopvlak met staalplate te vervang.

Hy het toe vertel dat daar nie van harnasse gebruik gemaak is nie, en dat hulle wat aan die projek gewerk het, vooraf streng gekeur is, en geen bang haar vir hoogtes moes hê nie. Hy het toe vir Kragkop, die ingenieurs-afdeling van die destydse Vaalrivier Tabak Koöperasie, gewerk. Die Parys Munisipaliteit met mnr. Schonken wat toe stadsklerk was, het vir die materiaal en arbeid betaal om die brug se loopvlak te verstewig. Piekniek op Gholf-eiland was daardie jare besonder gewild onder Parysenaars, maar ook besoekers aan die dorp, en is die hangbrug waarskynlik juis om die rede gebou met die aanvanklike kabels en houtplanke, om toegang vanaf die dorp na die eiland te bied. Die houtloopvlak was egter nie baie stabiel nie en het die ‘geswaai’ van die brug wanneer mense daarop sou loop, jou senuwees beproef, onthou Jan se vrou, Joey. Vir hulle as gesin het die rivier en die brug ‘n besondere betekenis gehad en is daar menige vakansies hier op die klippe by die rivier ontspan en saam gekuier, terwyl die kinders in die water baljaar het. Die foto’s op die inligtingsbord wat nege  jaar gelede hier deur die vrywilligers opgesit is, hou kosbare herinneringe in van hoe dit destyds by die hangbrug gelyk het.
  • Gazette het oor die naweek ook berig van ‘n baie gevaarlike spoelgat in Oranjestraat op pad na die ou pompstasie waarin iemand intussen ‘n plan prakseer het om ‘n band in die gat te sit.
Wee maar versigtig vir dié spoelgat in Oranjestraat naby die ou pompstasie. Foto:’s Verskaf

 

 

Related Articles

Back to top button