NewsNews

Oeste belowend, maar uitdagings groot met reën, krag en paaie

Oeste belowend, maar uitdagings groot met reën, krag en paaie

 

Die buitengewone reënseisoen wat selfs weervoorspellers nie aldag in die kol gehad het nie, bring vir boere uitdagings van sy eie, want al lyk oeste vanjaar belowend, is die oes eers daar as dit by die silo’s is. Só gesels boere van die Weiveld-distrik met groot dankbaarheid oor die reën, want ‘n nat jaar is steeds beter as ‘n droë jaar – maar die uitdagings is groot met nóg reën wat voorspel word. Vir veral soja- en sonneblomoeste is dit nou kritieke dae. Lande is reeds té nat om te kan inkom. Sodra die sojabone ryp is skiet die peul oop wat oesverlies beteken, veral as dit in die komende dae baie warm sou wees. Hoe meer dit reën, hoe moeiliker word dit om te kan oes.

Ook sonneblom wat nou gestroop moet word, dra die risiko van skade deur duiwe, hoewel minder kritiek as met sojabone. Vir mielieboere is daar egter nog tyd. In die Weiveld-distrik is sedert Oktober tot nou al meer as 900mm reën gemeet op sy grond, sê Vicky van der Westhuizen, een van die graanboere in die distrik.

Desember was dit té nat om te plant en moes hy in die eerste week van Januarie nog 1 200ha plant. Vir hom en ander boere wat ook eers laat vanjaar kon plant weens ‘n nat Desember, help die reën nou vir laat mielie- en sonneblom aanplantings, maar die potensiaal neem af hoe later jy plant. As daar wind sou kom, kan ook dit oesvooruitsigte negatief raak omdat grond só nat is. As dit weekliks bly reën kan boere groot probleme in die gesig staar. Maar dit is nie net uitermate hoë en aanhoudende reënval wat kritieke uitdagings vir boere inhou nie. Beurtkrag en paaie wat verspoel veroorsaak nog meer probleme. Paaie is só verspoel dat vragmotors vasval op pad na die silo’s.

Talle grondpaaie is heeltemal onbegaanbaar vir boere wat afhanklik is van hierdie paaie, en is daar bykans geen hulp van regeringskant om die paaie in stand te hou nie. Voeg daarby insetkoste wat drasties in die landboubedryf gestyg het, grotendeels weens hoë brandstofstygings, kragtariefverhogings, en faktore soos die Rusland/Oekraine-oorlog wat onder meer kunsmispryse die hoogte laat inskiet het, dan sien jy waarom verbruikers letterlik met geld in die hand staan, maar die sente twee maal moet omdraai wanneer jy basiese produkte soos meel en olie koop. En nóg skerper stygings, veral ook in vleis- en hoenderpryse word reeds voorspel. Anders as in die Bothaville, Viljoenskroon en Hoopstad-distrikte waar daar geweldige versuipskade ook vroeër in die seisoen was, is boere hier dankbaar vir minder sanderige, en minder gelyk grond.

“Daar is altyd ‘n balans nodig. Genoeg reën is wonderlik, maar té veel reën bring skade. Maar ons moet dit vat soos dit kom. Oor die geheel gesien is ons baie dankbaar vir die reën en ‘n mooi seisoen ten spyte van uitdagings,” sê Hennie Viljoen van die plaas Vlensburg, ook in die Weiveld-distrik. Hy boer hoofsaaklik met Simmentalers en Simbras. Ook hy sê dat die swak paaie vir boere tans een van die grootste probleme is, veral met nat weerstoestande.

Die Noord-Vrystaat val onder die Heilbronse paaie departement, en hoewel boere help waar hul kan om die paaie in stand te hou, het hulle eenvoudig nie die nodige toerusting hiervoor nie. Tog word weinig ondersteuning van regeringskant gegee, en bring die swak paaie hoër slytasiekoste mee. “Ons is al moedeloos om padskrapers te stuur om paaie reg te maak. Hierdie is al die vierde keer dat ons vanjaar paaie moet herstel,” sê Devina Dannhauser van JH Dannhauser boerdery.

Selfs paaie op plase het verspoel. “Braklaagte se pad het in ‘n rivier verander, soos wat water die vinnigste pad vlei toe soek.” Dan moet daar nog ekstra uitgawes vir brandstof aangegaan word om noodkragopwekkers aan die loop te hou tydens beurtkrag want boere, soos ander verbruikers, is daagliks afhanklik van krag. Wanneer koste styg, styg pryse, maar winsmarges word al kleiner. En dit is nie net graanboere wat sukkel nie. Ook vir veeboere is daar enorme uitdagings weens die reën, verspoelde paaie en nat veld.

Omdat dit só nat is, is die voorkoms van siektes, veral insekdraende siektes en parasiete hoër as gewoonlik. Hoewel die diere geëent is, sien jy meer gevalle van siektes soos sweetsiekte, salmonella, diarree, bosluise, longontsteking, knopvelsiekte, kriptospordiose en drie dae stywesiekte. Gevolglik is meer antibiotika nodig vir die behandeling van siektes. Van die entstowwe is vanjaar heelwat moeiliker verkrygbaar. Hoewel daar met die skryf van hierdie berig nog nie gevalle van bek-en-klouseer in die Parys-omgewing aangemeld is nie, moes veeboere alle maatreëls in plek stel om die uitbreek daarvan te verhoed. Weens die nat veld, is voedingswaarde van weiding minder.

Op die Dannhausers se plaas Goedgedacht langs die N1 het kampdrade onder water gestaan en voerkrippe weggespoel. Gevolglik moes die beeste meer geskuif word as ander jare omdat krale onder water was en vee in die modder vassit.  

Dit bring spanning vir die vee en kan spanning ‘n verlies van tot 10% van liggaamsmassa veroorsaak, wat weer die prys beïnvloed. “Waar jy verlede jaar ‘n 240kg kalf van die veld sou speen, speen jy nou ‘n 210kg kalf. ‘n Verlies van 30kg waarvoor die boer nie begroot het nie.” Dan was daar ook skade weens weerlig. En wanneer jy stoetdiere verloor is dit nie net randwaarde wat jy verloor nie, maar ook genetiese waarde.

Daar is gesukkel om aangeplante weiding geplant te kry, en toe daar uiteindelik geplant is, was daar spoelskade. Hoewel alles nie verlore was nie, was die opkoms nie soos vorige jare nie. “Tog as dit nie gereën het nie, het niks opgekom nie, en moet jy die goed saam met die sleg vat.” “Té veel reën betaal sy skade, en is daar vanjaar genoeg kos vir die vee” sê Devina. Hul boerdery het twee stoetlyne, Beefmaster Alliance en Considerata SA Droughtmaster, asook kommersiële beeste.

 

 

Related Articles

Back to top button