NewsNews

Voltooiing van opgradering by waterwerke vertraag ná kontrakteur sowat R1,6m té veel betaal is

Voltooiing van opgradering by waterwerke vertraag ná kontrakteur sowat R1,6m té veel betaal is

   

  ’n Projek waarmee die watersuiweringswerke in Vredefort tans opgegradeer word, kan volgens die raadgewende konsultante vir die projek, weens ‘n gebrek aan fondse nie afgehandel word nie. Ngwathe se komitee vir Infrastruktuur en Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling het egter ná ‘n ondersoek en besoek aan die projek vasgestel dat ‘n kontrakteur vir die projek te veel betaal is. Stappe word nou gedoen om die oorbetaling wat sowat R1,6m beloop, terug te verhaal sodat dit in die projekfonds teruggeplaas kan word. Die komitee wil hê dat die aangeleentheid dadelik ondersoek moet word en stappe gedoen word teen wie vir die foutiewe betaling verantwoordelik was.

Die opgradering van die watersuiweringswerke in Vredefort behels werk aan die pompstasie by die onttrekkingspunt uit die Vaalrivier, installering van addisionele pompe en verbeteringe aan die suiweringswerke self, maar die vermoë daarvan word nie tans vergroot nie. Die projek is sowat 96% voltooi, maar die tydsverloop daaraan verbonde oorskry alreeds die beraamde voltooiingstyd by verre. Die komitee het onlangs verskeie projekte in Ngwathe wat tans in proses is, besoek om eerstehands te sien wat die stand van die projekte is.

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid Philip van der Merwe, een van die nuutverkose lede van die komitee, is die komitee ernstig om beter en strenger toesig oor die verloop van projekte te hou om sy oorsigrol deeglik en konstruktief te verrig. Ter aanvang van die proses is daar onlangs besoeke gebring aan drie projekte wat ingesluit het die opgradering van die watersuiweringswerke en rioolverwerkingsaanleg in Vredefort, en die bou van voetganger- en voertuigbruê oor die Elandspruit tussen Sandersville en Heilbron.

Die opgraderingswerk aan die rioolsuiweringsaanleg in Vredefort behels die bou van ‘n nuwe onderdak inlaatstruktuur met skermtoerusting, nuwe chlorineringskanale met dosseringstoerusting, en herstel/opgradering van meganiese- en elektriese komponente. “Dié projek is nog in die beginstadium en die vordering daarmee sal op die agenda bly om seker te maak dat tydskedules gehandhaaf word en fondse korrek aangewend word,” sê rdl. Van der Merwe.

Met die besoek by die terrein in Heilbron waar die bou van die bruê oor die Elandspruit ‘n aanvang geneem het, is ook vasgestel dat die projek ver agter skedule is en nog net in die beginstadium. Die uitermate hoë reënval wat Heilbron die afgelope tyd gehad het, het verstaanbaar tot die vertraging van die projek bygedra, sê Van der Merwe.

Die sterk afvloei in die spruit bemoeilik ook uitgrawings wat gedoen moet word om die fondamente vir die brûe te giet, en daar is boonop rotsformasies waar die uitgrawings gedoen moet word, wat die proses verder bemoeilik. Verlede week se reën het noodwendig ook nog verdere onvermydelike vertragings meegebring, maar die kontrakteur is gemaan om die proses soveel moontlik te bespoedig sonder om afbreuk te doen aan die kwaliteit werk wat gelewer moet word.

Hy is ook versoek om meer toerusting en personeel aan te wend om die agterstand te probeer inhaal. Die komitee sal binnekort ander projekte besoek en sal voortaan gereeld volledig aan die raad verslag doen oor die vordering daarmee, en probleme wat ervaar word om sy oorsigrol doeltreffend te vervul.  

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button