News

Brandbane – eerder vroeër as later

Brandbane - eerder vroeër as later

Vir boere is die voortydige maak van brandbane kritieke voorbereiding voor die wintermaande wanneer veldbrande ‘n wesenlike gevaar vir weiding en vee inhou. Brandbane is juis ‘n knelpunt omdat nie alle boere brandbane op hul grense maak nie – iets wat veral in die Noord-Vrystaat kritiek is waar hektaars weiding elke jaar afbrand. Sonder beskerming op jou grense, versprei ‘n brand vinnig en kan brandbestryders nie voorbly nie, veral as daar wind is. Sonder ‘skoon gedeeltes’ kan voertuie ook nie veilig inbeweeg om brande te keer nie. As vuur uit jou veld na aangrensende grondeienaars versprei, kan dit lei tot groot eise veral waar nie voorsiening gemaak is vir brandbane nie.

Wat sê die wet

Hoofstuk 4 van die brandwet van 1998 wat handel oor die voorkoming van nasionale veld en bosbrande, plaas juis die onus op grondeienaars om voorbereid te wees op veldbrande deur die maak van brandbane. In die wet word die rol van grondeienaars, bure en brandbestrydingsorganisasies duidelik uiteengesit.

Dit bepaal onder meer dat elke grondeienaar op wie se grond daar die moontlikheid kan wees vir ‘n veldbrand, of die verspreiding van ‘n brand, brandbane op grense sal wees, daar met aangrensende grondeienaars ooreengekom moet word op ‘n datum waarop beplan word om die brandbane te brand, en dat grondeienaars en brandverenigings voortydig in kennis gestel sal word daarvan. Dit moet met in ag neming van die vuurindeks gedoen word, en met die nodige brandpermitte. Daar moet ook voorsiening gemaak word dat toesig te alle tye daar sal wees wanneer brandbane gebrand word, en voorsiening gemaak word, sou die brand tydens voorbrande oor grense versprei.

Volgens Pieter Kemp, bestuurder van die Vaal Eden Brandvereniging, moet grense minstens 80% vry wees van brandbare materiaal. Hoewel daar nooit ‘n regte tyd is om brandbane te maak nie, is vroeër altyd beter as later, sê hy. Skouergedeeltes langs die N1 sal deur SANRAL gesny word, en die Working on Fire span wat in Parys gesta- sioneer is sal ook vanaf Mei begin om boere stelselmatig te help met die brand van brandbane. Daar is verlede jaar reeds brandbane langs die N1, R59 en R500 gemaak. Dit is belangrik om te sorg dat vuurvegters gediens is.

Grondeienaars word aangemoedig om aan te sluit by hul plaaslike brandvereniging, en kan jy e-pos stuur na bbv@parys.co.za as jy meer inligting of navrae het oor aansluiting by die Vaal Eden Brandvereniging. Aansoek om brandpermitte kan gedoen word deur die plaaslike BBV in oorlegpleging met die plaaslike brandweerhoof. Skakel of WhatsApp die BBV by 076 683 4544.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button