News

Vredefort en sy mense gereed vir Die Kruistog

Vredefort en sy mense gereed vir Die Kruistog

 

Die opgewondenheid in Vredefort is groot oor Vrydag, 15 April se Kruistog – ‘n projek wat deur mense van Vredefort en die distrik aangepak word om Paasfees vanjaar iets besonders te maak.

‘n Roete van 3km is uitgelê deur Vredefort en elkeen wat deelneem bring ‘n kruis saam om die roete saam met die konvooi te stap om mense só ook ‘n unieke belewenis te gee van die pad wat Jesus moes stap na sy kruisiging op Golgotha. Die dorp het die afgelope paar weke ‘n transformasie ondergaan soos wat voorbereidings vir die Kruistog vorm aangeneem het. Inwoners en boere van die distrik het hande gevat om die parke skoon te maak, beddings vol blomme te plant en geboue te verf.

Mense wat nou deur Vredefort ry, sal agterkom dat hier iets aan die gebeur is! Daar is wonderlike samewerking tussen inwoners en die munisipaliteit, en dis lekker om elke dag te sien hoe daar gevorder word. Hoe nader die dag kom, hoe meer mense raak betrokke by hierdie besondere projek.

Die lamppale langs die kruistog-roete is almal versier, borde wat die verlossingswerk van Jesus verkondig pronk in die dorp se strate, die Kruis-vlot met sy 44 000 blomme is uiteindelik voltooi, en sien die dorp daarna uit om besoekers te verwelkom wat gaan deel in die viering van die dag. Die sirkel-roete van die Kruistog kronkel vir 3km deur Vredefort se strate, en begin en eindig by die dorp se sportgronde in Eerstelaan. Besoekers sal by die hek van die sportgronde verwelkom word, en na die parkeerarea beduie word. Vandaar sal almal na die rugbyveld gaan. Besoekers is welkom om reeds van 10:00 af op te daag.

Die dag se program lyk as volg:

10:30 Richann Brüssow en ander talentvolle sangers van Vredefort tree op

11:00 Opening en verwelkoming – Juan Greeff

11:10 Samesang o.l.v. Erna Rademan

11:20 Kruistog visie en reëlings word deurgegee

11:30 Die Kruistog vertrek vanaf die sportgronde

12:30 Die Kruistog keer terug na die sportgronde, en nagmaal word bedien

12:45 Samesang o.l.v Erna Rademan

13:00 Afsluiting en saamkuier

Daar sal ‘n aantal kos- en koeldrankstalletjies vanaf 10:00 die oggend by die sportgronde wees. Hoe werk die Kruistog? Vredeforters het ‘n reuse vlot gebou met ‘n groot wit kruis wat die Kruistog deur die strate gaan lei. Besoekers word genooi om die Kruis-vlot vanaf die sportgronde op die roete te volg. Die idee is dat soveel as moontlik mense met kruise sal stap.

Daar is meer as 120 kruise deur vrywilligers in Vredefort gemaak, wat beskikbaar sal wees vir mense wat nie hulle eie kruise kon maak, of kon saambring nie. Die kruise is van ligte hout gemaak, en sal nie swaar wees om te dra nie. Deelnemers is egter ook welkom om sonder kruise te stap as hulle wil.

Die Kruistog roete wat Vrydag deur Vredefort se strate gestap sal word. Foto: Verskaf

 

Daar is meer as 120 kruise deur vrywilligers in Vredefort gemaak, wat beskikbaar sal wees vir mense wat nie hulle eie kruise kon maak, of kon saambring nie.

Die pas sal gematig wees, en kinders sowel as bejaardes sal gemaklik kan stap. Elkeen kan teen sy eie tempo vorder.

Mense is welkom om in groepe, of as individue te stap, daar is nie reëls met betrekking tot die stap nie. Een van die borge van die dag, Triptiek Klank, sorg vir ‘n klankstelsel en ‘n pragtige versameling van Paasliedere wat die strate van Vredefort gaan vul, terwyl Kruistoggangers op die roete die uitstallings en kennisgewings kan sien wat kruistoggangers sal herinner aan die lewe en verlossingswerk van Jesus Christus. Die roete behoort nie meer as ‘n uur te neem om te voltooi nie.

Vir diegene wat nie kans sien om te stap nie, sal daar twee wildsbesigtigingsvoertuie wees wat mense kan neem op die roete. Sou daar verder ‘n behoefte wees, kan kruistoggangers ook met hulle eie voertuie agter die konvooi aanry. By die eindpunt sal elkeen ‘n “nagmaalpakkie”, sowel as ‘n aandenking wat hulle kan huis toe neem, ontvang. Alles is gratis en daar word geen kostes of kollekte gevra nie.

Besoekers kan net ‘n paar rand saambring vir die kos- en koeldrankstalletjies as hul dit wil ondersteun. Vir meer inligting skakel Juan Greeff by 079 874 1860. Besoek gerus ook die webwerf www.kruistog.co.za vir ‘n detail beskrywing.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button