NewsNews

R30: Kommer oor Paasnaweek verkeer

R30: Kommer oor Paasnaweek verkeer

Met die R30 tussen Bothaville en Allanridge wat voorverlede naweek, op 2 April weer vir verkeer oopgestel is en  verkeersbeamptes wat toe opdrag gegee is om die pad voortaan 24/7 te beman, is daar kommer oor wat die Paasnaweek  vir die pad inhou.

Ná ‘n ongeluk op  28 Maart waarin ‘n ouerpaar en hul twee dogtertjies van 2 en 4 jaar oud gesterf het, is  die pad met onmiddellike effek gesluit Negentien mense het sedert begin Februarie tot einde Maart op die pad gesterf, en minstens 42 is beseer. Die pad is na die gesinstragedie net enkele dae later egter heropen. Verkeersbeamptes sou daarna die pad toe met flitsende blou ligte weerskante beman om seker te maak mense slaan ag op die waarskuwingstekens en spoedbeperkingborde wat weerskante van die pad aangebring is. Verlede naweek het daar weer ‘n motor in die pan se water wat weerskante van die pad loop, beland, net enkele dae nadat die pad oopgestel is. Die groot kwessie is egter dat verkeersbeamptes in die Vrystaat onder normale omstandighede nie 24/7 werk nie, maar wel van 06:00-22:00. Wanneer daar dan later gewerk moet word, moet hulle hul tyd vrywillig aanbied, en word hulle nie daarvoor vergoed nie, sê verkeersbeamptes.

Die meeste ongelukke op die pad het die afgelope twee maande juis saans en in die vroeë oggendure gebeur. Met die Paasnaweek wat voorlê was daar verlede naweek sprake dat ‘n stop/ry moontlik opgesit kan word op die gedeelte van die pad, maar het dit teen Gazette se druktyd nie gerealiseer nie. Ironies genoeg word die roete as een van dié in die Vrystaat beskou wat in ‘n goeie toestand is. Hoewel daar spoed- en waarskuwingstekens weerskante van die pad is, is daar geen veiligheidsrelings by die gedeelte van die pad nie. Verskeie motoriste wat daagliks die pad gebruik het, het gesê dat hulle meen die pad wel veilig is, maar dat veral die verontagsaming van die waarskuwingstekens en spoed te blameer is vir die ongelukke.

Die vermoede is dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde gedeelte van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg het. Die R30 tussen Bothaville en Allanridge het vroeg in Februarie ná swaar reën oorstroom toe die pan se water oor die pad gespoel en die teervlak ernstig beskadig het. ‘n Kontrakteur het toe die padvlak tot bo die watervlak verhoog, maar sedertdien het die groot getal ongelukke ernstige kommer oor die veiligheid van die pad gebring. Toe die pad gesluit is, is ‘n voertuig ook in die sandbanke in wat motoriste moes keer om die pad te gebruik. Met die vroeëre sluiting van die pad was daar veral woede by padgebruikers oor die voorgestelde alternatiewe roetes wat eerder lyk na ‘n slagveld met al die slaggate op dié paaie waar ook gereeld ongelukke is.  

 

 

Related Articles

Back to top button