News

Nog ‘n motor in die water, blou lig opdrag ten spyt

Nog 'n motor in die water

   

 

Ten spyte daarvan dat die R30 tussen Bothaville en Allanridge verlede naweek (2 April) weer vir verkeer oopgestel is met verkeersbeamptes wat opdrag gegee is om voortaan 24/7 die pad te bewaak, is daar pas weer ‘n motor in die water van die pan wat weerskante van die pad loop.

Die ongeluk was net voor 21:00 Saterdagaand 9 April , en was daar die keer geen beserings nie. Maar met die laaste ongeluk op 28 Maart voor die pad met onmiddellike effek gesluit is,  het ‘n Oos-Kaapse ouerpaar en hul twee dogtertjies van 2 en 4 jaar oud onderskeidelik, die soveelste slagoffers van ‘n waterdood op die pad geword. Negentien mense het sedert begin Februarie tot einde Maart op die pad gesterf en minstens 42 mense is beseer.

Die pad is na die gesinstragedie net enkele dae later  heropen met verkeersbeamptes wat toe  die pad met flitsende  blou ligte weerskante sou beman om seker te maak mense slaan ag op die waarskuwingstekens en spoedbeperkingborde wat weerskante van die pad aangebring is. Ironies genoeg word die roete as een van dié in die Vrystaat beskou wat in ‘n goeie toestand is, Die meeste ongelukke op die pad het saans en in die vroeë oggendure gebeur.

Hoewel daar spoed- en waarskuwingstekens weerskante van die pad was, is daar geen veiligheidsrelings by die gedeelte van die pad nie. Verskeie motoriste wat daagliks die pad gebruik het, het gesê dat hulle meen die pad wel veilig is, maar dat veral die verontagsaming van die waarskuwingstekens en spoed te blameer is vir die ongelukke.

Die vermoede was dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde gedeelte van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg het. Die R30 tussen Bothaville en Allanridge het vroeg in Februarie ná swaar reën oorstroom toe die pan se water oor die pad gespoel, en die teervlak ernstig beskadig het.

‘n Kontrakteur het toe die padvlak tot bo die watervlak verhoog, maar sedertdien het die groot getal ongelukke ernstige kommer oor die veiligheid van die pad gebring. In die jongste voorval op 28 Maart, het ‘n Oos-Kaapse ouerpaar en hul twee dogtertjies van onderskeidelik 2 en 4 jaar, ‘n waterdood op die pad gesterf toe hul motor in die vroeë oggendure die pad verlaat en onder die water verdwyn het. Toe die pad gesluit is, is ‘n voertuig ook in die sandbanke in wat motoriste moes keer om die pad te gebruik.

Met die sluiting van die pad verlede week, was daar nog meer woede by padgebruikers oor die voorgestelde alternatiewe roetes wat eerder lyk na ‘n slagveld met al die slaggate op dié paaie waar ook gereeld ongelukke is.

 

Related Articles

Back to top button