News

Brandweerdiens se onvermoë wek kommer

Brandweerdiens se onvermoë wek kommer

   

In die strate voor die ou Tuckers-hotel in Heilbron skarrel mense rond. Dis Maandag. Die kamers wat agter die hotel uitverhuur word, brand. Ngwathe se brandweerdiens wat in Heilbron gestasioneer is, is onmiddellik op die toneel. Doen hul bes met wat beskikbaar is – net ‘n vuurvegter.

Maar geen indruk word gemaak teen die vlamme wat verwoed voortbeur. Later staan twee netjiese brandweerwaens voor die ou hotelgebou. Sasolburg en Frankfortse brandweerdienste wat kom help.

Maar dis té laat, want wanneer dit brand, maak minute saak. Sasolburg is 62,6km weg van Heilbron – Frankfort 55,4km. Jy sidder om te dink wat sou word van die aangrensende eiendomme as buurdorpe se brandweerdienste nie daar was om te help nie.

Net ‘n week gelede het die 76-jarige Lena Rautenbach gesterf, vermoedelik weens rookinaseming tydens ‘n brand in haar huis op ‘n kleinhoewe buite Heilbron. Drie weke gelede het twee vragmotors aan die brand geslaan ná ‘n botsing op die R59, en net die naweek het ‘n huis in Parys afgebrand.

Wintertyd se veldbrande lê voor. Daar is gereeld huisbrande en brande in informele nedersettings. Maar Ngwathe se brandweer- en nooddiens is jare lank al nie gerat om ‘n behoorlike brandweerdiens te kan lewer aan die dorpe wat dié munisipaliteit bedien nie. Dit sluit Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville in.

Foto’s van hoe dit al vir sewe jaar by die Heilbron-brandweerstasie lyk, vertel die verhaal van ‘n eens netjiese brandweerstasie wat ná ‘n inbraak oor die Kerstyd min of meer in 2015, met tyd verval het. Selfs die dak is twee weke gelede weggedra.  

 

Heilbron se brandweerstasie. 

 

   

Met die destydse inbraak toe die vandale begin wegdra het, is al wat kraan en pyp gesteel, wasbakke stukkend gekap, toilette gebreek. Water het deur die brandweerstasie gestroom. Omdat die munisipaliteit nie die sekuriteitsmaatskappy betaal het nie, het hulle onttrek. Die gevolg was dat personeel eers die Maandag die skade ontdek het, omdat dit nie ‘n 24-uur brandweerstasie is nie. Die matte het toe al gevrot. Dokumente het oral in die water gedryf nadat selfs die liasseerkabinette uitgegooi is. Sonder toiletgeriewe was daar geen ander keuse as om van die personeel se huise af te werk totdat die skade herstel is nie.

Sewe jaar later is niks herstel nie. ‘n Stuk of 15 kontrakteurs het al kom kwoteer. In Oktober 2021 is daar vir die soveelste keer opmetings gedoen en intussen word die skade by die dag groter.

Selfs die meubels is al opgekap en die padverf uitgegooi en in die gebou aan die brand gesteek. Mense in die koshuis agter die brandweerstasie sê hulle het al male sonder tal gebel om te sê hulle hoor hoe die vandale wegdra by die brandweerstasie. Van die diewe is al gevang en weer laat gaan. Niemand word verantwoordelik gehou vir die skade nie, sê inwoners van Heilbron wat vies is oor die verval. Tog is ‘n brandweerdiens vir die dorp baie nodig, en word nie net Heilbron bedien nie, maar ook Edenville en die omliggende plase, tot sover as ‘n 30km radius rondom Heilbron.

Parys se brandweerstasie laat eweneens veel te wense oor. Hoewel daar twee Land Cruisers is met vuurvegters, is die noodreaksievoertuig vroeër afgeskryf in ‘n sekondêre botsing op die N1, en staan dit steeds onder stoflae en wag om verkoop te word. Die dorp het nie ‘n behoorlike brandweervoertuig nie. Dié is jare terug al verkoop. Boere en vrywilligers wat gereeld moet help op brandtonele sê die munisipale brandweerdiens het eenvoudig nóg die toerusting nóg die kundigheid om effektief te kan help. Omdat brandkrane nie gereeld gediens en in stand gehou nie, is dit selfs ‘n stryd om vuurvegters op ‘n brandtoneel vol te maak. In Heilbron moet Fezile Dabi gereeld kom help.

Gedurende Februarie/Maart alleen was daar twee huisbrande in Heilbron, die brand op die kleinhoewe waarin Lena Rautenbach gesterf het, en ‘n stoor wat afgebrand het. Dit afgesien van die  veldbrande wat in die vorige brandseisoen in die Heilbron-distrik gerapporteer is.

By ‘n werktuigkundige in Heilbron staan ‘n onklaar voertuig wat destyds van Parys vir Heilbron gestuur is, as troos, maar wat na maande steeds staan.

* Gazette het die munisipale woordvoerder gevra om kommentaar oor die toestand van die brandweerdiens en vooruitsig vir addisionele toerusting en voertuie, maar is antwoord nog nie teen druktyd ontvang nie. Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.    

 

 

Related Articles

Back to top button