News

Vaaldam: Wat is dié groen, stink slyk, wil hengelaars weet

Vaaldam: Wat is dié groen, stink slyk, wil hengelaars weet

Vergiftigingstekens by die mens sluit onder meer maagpyn, diarree en braking in.

“Weet iemand dalk  wat is die stink, groen slyk wat oral in die Vaaldam te sien is? Baie inhamme van die dam in die Deneysville-omgewing is vol daarvan. Sodra dit droog word, kry dit ‘n eienaardige blou kleur.”

Só sê mnr. Bert Stander, wat al 62 jaar gereeld in die Vaaldam hengel. Hy is nie die enigste een wat die afgelope weke opgemerk het dat die water plek-plek heldergroen is nie. Vaaldam-oewerbewoners wat Vaalweekblad die afgelope week gekontak het, sê hulle het die dam nog nooit só groen gesien nie. Hulle kla ook dat die reuk onuithoudbaar is, en daarby is hulle bekommerd oor die watergehalte aangesien die Vaaldam drinkwater aan meer as 12 miljoen mense verskaf.

Inwoners van Oranjeville laat weet dat hulle ‘n soortgelyke groen slyk in die omgewing van die Magrieta Prinsloo-brug sien.

‘n Plaaslike watergehalte-ekspert, wat verkies om anoniem te bly, sê dit is byna 100% seker dat die groen water ‘n teken van ‘n aktiewe blougroen-alge uitbraak is. Hoewel dit alge genoem word, is dit in werklikheid geen alg nie maar sianobakterieë wat floreer in ‘n wateromgewing wat deur riool en industriële afvalwater besoedel is. Wat hierdie tipe besmetting gevaarlik maak, is dat sianobakterieë nie net voedingstowwe en suurstof van ander waterlewe in die akwatiese ekostelsel “steel” nie, maar dat hulle ook sianotoksiene produseer wat skadelik en selfs dodelik vir waterspesies en landdiere kan wees. Mense wat in aanraking met sulke besmette water kom, kan ook baie siek word.

Sommige blougroen alge kan sowel senuweetoksiene (neurotoksiene) as lewertoksiene (hepatotoksiene) produseer. Mense wat daarvan inkry, kan simptome toon soos ‘n veluitslag, maagpyn, diarree en braking, gevoelloosheid van die lippe, ‘n tinteling in die vingers en tone, sowel as duiseligheid.

By diere sluit die simptome swakheid, strompeling, moeilike asemhaling en stuiptrekkings in, en die dood kan uiteindelik intree.

Vergiftingstekens verskyn gewoonlik binne 15 tot 20 minute na inname van besmette water. Dit is raadsaam om dadelik jou dokter of veearts te kontak as jy of jou troeteldiere of vee enige tekens van vergiftiging toon.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Gaette se susterskoerant Vaalweekblad hier:

Vaaldam: Wat is dié groen, stink slyk, wil hengelaars weet | Vaalweekblad

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button