NewsNews

Blinde student en gidshond vang saam graad

Blinde student en gidshond vang saam graad

“Ons het ‘n baie spesiale verhouding. Vogue is meer as net ‘n troeteldier vir my, sy is meer as net ‘n gidshond. Sy is my lewensmaat.”

“’Vogue’, soos die tydskrif,” beskryf die 22-jarige Cornelle Leach haar pikswart Labrador-tefie se naam. Vogue, wat nou die dag geesdriftig vir haar eerste skilpad by die Botaniese Tuin geblaf het.

Vyfjarige Vogue wat ‘n jong seuntjie se roomys onlangs uit sy hand uit gegryp het en aangestap het asof niks gebeur het nie.

“Ek het net ‘ghraappp’ gehoor en daarna uitgevind wat sy gedoen het. Botter kan mos nie in haar mond smelt nie,” vertel Cornelle.

Vogue is die afgelope drie jaar al haar gidshond.

“Ons het ‘n baie spesiale verhouding. Vogue is meer as net ‘n troeteldier vir my, sy is meer as net ‘n gidshond. Sy is my lewensmaat. Sy oefen saam met my, sy swot saam met my, sy skryf eksamen saam met my, sy gaan gradeplegtigheid toe saam met my en sy gaan ook saam met my trou.”

Dáái Vogue. Vrydag, 1 April het hierdie twee onafskeidbare vriende saam die verhoog van die Ouditorium op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom betree om hul honneursgraad in toerismebestuur te ontvang.

“Ek het besluit ek sal aanhou studeer tot ek oor daardie verhoog kon stap om my graad te ontvang. Ek is so opgewonde en ek is so dankbaar. Ek het lank gewag vir hierdie dag.”

n Trotse Cornelle Leach ontvang haar graad.

Sy het haar eerste gradeplegtigheid weens die Covid-19-pandemie misgeloop, maar Vrydag was haar ma Yolande en pa Eddie byderhand om te sien hoe sy op gepaste wyse vir haar harde werk beloon was. Cornelle ly aan Stargardt degeneratiewe oogtoestand wat jonk reeds by haar gediagnoseer is.

“Ek was met sig gebore, maar dit het stelselmatig verswak. Ek het in graad 1 agtergekom ek sukkel om te sien, ek het byvoorbeeld gesukkel om reguit te knip. Ek het geen sentrale visie nie, net perifere. Ek kan tussen lig en donker en groot en klein onderskei, maar ek kan geen detail sien nie.”

Drie jaar terug was haar keerpunt. “Dit was ‘n groot stap om te aanvaar dat ek gestremd is en dat ek ‘n gidshond nodig het. Ek is só spyt ek het nie die besluit vroeër gemaak nie.

“Ek was ‘n kluisenaar, ek het in mense vasgeloop. Ek was nie winkels toe nie, ek kon nie alleen op kampus loop nie. Vogue het my lewe verander, sy het soveel deure vir my oopgemaak. Sy het my selfbeeld verbeter. Ek kon self gym toe gaan, ek kon self klas toe gaan. Skielik was ek mobiel. En, kyk net waar is ek nou. Sy het elke klas saam met my bygewoon. Dit is danksy haar dat ek hier is.”

Cornelle, saam met haar gidshond en beste vriend, Vogue sowel as ma Yolande en pa Eddie tydens haar gradeplegtigheid. Foto’s: Verskaf

Cornelle is tans besig om haar meestersgraad in toerisme by die NWU te voltooi waar sy gaan poog om ‘n model vir toerismebestemmings te gee wat hul akkommodasie en geriewe meer toeganklik vir mense met gestremdhede sal maak.

“Ek wil my doktorsgraad ook doen en in die akademie bly. Ek wil graag ‘n dosent word, ek geniet die navorsing ongelooflik baie. En Vogue, wat gaan sy met haar kwalifikasie doen? Sy lag:

“Vogue gaan waarskynlik ‘n toerismebestemming vir honde êrens oopmaak, alle moontlike geleenthede ondersoek en aan alles ruik waaraan sy wil!”Benewens haar akademiese prestasies is Cornelle ook ‘n begaafde swemmer wat met ‘n rits Suid-Afrikaanse rekords agter haar naam spog.

Cornelle Leach en haar gidshond, Vogue, het saam graad gevang.

Vanjaar neem sy aan die wêreldkampioenskappe vir gestremdes in Portugal deel en dan is die Statebondspele haar mikpunt. Al die pad kop bo water en gemotiveerd. Dit is ook haar boodskap vir elkeen wat voel hul gestremdheid is ‘n onoorkombare struikelblok: “Hou net aan glo in jouself. ‘n Gestremdheid beteken nie dat jy nie iets kan bereik nie, dit gee jou net meer rede om dit te bereik. Jy is tot meer in staat as wat jy dink.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button