NewsNews

En só lyk Maart se mooiste sypaadjie-tuin

April se inskrywings is reeds oop en jy kan groot pryse wen

 

“Jy maak skoon voor jou, jy maak heel, en dan maak jy mooi. Dit is soos kind grootmaak – jou fondament moet reg wees.” Met hierdie leuse maak Yvonne van Zyl tuin, en vertel Saronja Swanepoel trots dat dit ma Yvonne, en haar tuinier, Johannes, is wat gesorg het vir die spog sypaadjie-tuin wat as die Maart-wenner aangewys is vir die “Mooiste sypaadjie-tuin in Parys”.  

   

 En dit is nie net die sypaadjie-tuin hier by Albizzialaan nr. 9 wat so mooi vertoon nie. Die agtertuin is ‘n fees van blomme.  

 

“Ek plant net blomme, en die Skepper laat dit groei,” sê Yvonne. En haar planne om haar tuin teen die winterkoue te beskerm is ook al in plek – jy skuif en maak toe, gesels sy. Yvonne vertel ook hoe sy saans droom wat sy in haar tuin kan doen, en sodra die son opkom, spring sy aan die werk. Eintlik was die sypaadjie-tuin van hul huis die vorige huiseienaar se werk, maar Yvonne het blomme geplant en begin mooimaak met plante. Oral waar sy kan deel sy saad en steggies want vir haar is tuinmaak ’n leefwyse. Sy wil bome oral sien groei, en plant waar sy ook al ‘n oop stuk grond sien. Selfs verbygangers kry gereeld iets in die hand wat hulle kan gaan plant.  

Johannes is die man met die groen vingers wat hierdie tuin, maar ook verskeie ander tuine in die straat, al vir jare in stand hou. ’n Man met trots in sy werk.

Dankie aan elkeen van ons geesdriftige tuiniers wat gesorg het vir spog sypaadjie-tuin inskrywings vir Maart.

Onthou dat jy nou reeds kan inskryf vir die April-kompetisie met fantastiese pryse wat gewen kan word. Die kompetisie sluit 21 April. Alle inskrywings vir Maart, met die uitsondering van die Maart-weninskrywing, dring outomaties deur vir die April-kompetisie.

Om in te skryf vir die kompetisie vir die “Mooiste sypaadjie-tuin in Parys” is maklik:

* Enige iemand kan deelneem.

* Inskrywings is oop vir die hele Parys, of jy in ‘n luukse woning bly, of in ‘n sinkplaat huis … hierdie gaan net oor die mooiste sypaadjie!

* Jy mag ook ‘n sypaadjie of munisipale area wat ‘n inwoner self mooi maak nomineer!

Al wat jy hoef te doen is om ‘n mooi, duidelike foto van jou sypaadjie/munisipale area wat jy self onderhou, te WhatsApp met jou naam, van en straatadres na 083 258 3586.

Slegs foto’s met dié inligting sal aanvaar word. Die wenner sal elke maand op die laaste Vrydag van die maand aangekondig word, en die trofee-oorhandiging sal deur die burgemeester van Ngwathe, saam met Sanette van Petit Jardin, gedoen word op dieselfde dag wat die wenner aangekondig word.

Nie net ontvang jy ‘n wisseltrofee nie – daar sal elke maand ‘n fantastiese geskenk/geskenke saam met die trofee aan die wenner oorhandig word danksy ongelooflike borge se ondersteuning.

Wat kan jy wen?

🌟 Een nag se verblyf by River Rock Lodge

🌟 ‘n Wildrit deur Savannah Africa

🌟 Spa geskenkbewys van Stepping Stones Spa

🌟 ‘n Pragtige plant van Misty’s Garden Select

🌟 ‘n Geskenk van WITH HEART Creations

En, natuurlik die wisseltrofee wat deur die burgemeester van Ngwathe aan jou oorhandig word. Borge wat wil bydra tot die kompetisie met pryse of geskenkbewyse kan vir Sanette by 083 258 3586 skakel.

Neem deel en maak ons weer trots op ons dorp! Dit kos jou niks, net die bereidwilligheid om deel te neem en ‘n verskil in jou dorp te maak. Al wen jy nie, is dit kos vir jou siel om ‘n mooi sypaadjie of tuin te hê. Iets waarop jy trots kan wees. Iets wat joune is. Vra maar enige tuinier wat kleur en groei doen vir jou gemoed wanneer jy smag na iets om jou weer lus vir die lewe te gee.

* Let asseblief daarop dat Petit Jardin net een van die beoordelaars en fasiliteerders van die kompetisie is en nie enige geldelike gewin uit die kompetisie kry nie. * Please note that Petit Jardin does not receive any income or any other form of advantage with this competition. Petit Jardin is the main facilitator of the competition as well as one of the judges. Die beoordelaars vir die kompetisie is naas Petit Jardin, Lou van Wesley’s, Deon TerBlanche, Palesa Monyaka van Nooi Holdings, Tanja Bam van Stepping Stones, Margaret van Misty’s Garden en Liezl Scheepers. Die burgemeester sowel as die borge met die uitsondering van Petit Jardin wat die trofee borg, het elkeen ‘n stem wat uiteindelik die wenner bepaal.

 

 

 

Related Articles

Back to top button