News

Polisieduikers op pad na toneel waar motor onder water verdwyn

Polisieduikers onderweg na toneel waar motor onder water verdwyn

 

Polisieduikers van Welkom is  na die toneel op die R30 tussen Bothaville en Allanridge ontbied waar ‘n motor heeltemal onder die water is nadat dit die pad verlaat en in die water van ‘n pan wat weerskante van die pad loop, beland het. Dit was met die skryf van hierdie berig (11:03) nog onseker hoeveel insittendes in die motor vasgekeer is. Vanoggend se ongeluk volg nadat daar die afgelope week weer 3 ongelukke in net 3 dae op hierdie gedeelte van die pad was.

Al vier insittendes van die motor wat Vrydag in die water beland het, sowel as die twee insittendes van die motor wat Saterdag in die water beland het, was ongedeerd, maar nooddienste is met reg bekommerd oor die padslagting op die gedeelte van die pad wat sedert 29 Januarie tot verlede Vrydag reeds die lewens van 15 mense ge-eis het. Nog minstens 42 mense is beseer in verskeie botsings op die pad die afgelope twee maande.

Die gedeelte van die pad het vroeg in Februarie oorstroom ná swaar reën wat groot skade aan die teervlak veroorsaak het. Konstruksiewerk is daarna aan die pad gedoen, en is daar na druk op die paaie departement ook spoedborde en waarskuwingstekens weerskante van die pad aangebring.

Meeste van die ongelukke is saans en hoofsaaklik van motoriste wat van Bothaville in die rigting van Allanridge ry. Hoewel baie motoriste wat daagliks die pad ry sê dat hulle van mening is dat die pad veilig genoeg is om te gebruik, en veral boere in die distrik afhanklik is van die gebruik van hierdie pad, wil dit lyk asof motoriste moontlik beheer verloor oor hul voertuie as hulle té vinnig van die geteerde deel van die pad na die verhoogde grondgedeelte  beweeg.  

Die pad is tans (11:28) nog oop gewees vir verkeer.  

Die foto is met Saterdagaand se botsing geneem.

 

   

Related Articles

Back to top button