News

Dit kan nie so aangaan nie: Nog 4 sterf waterdood langs R30

Hoeveel moet nog hier sterf

Nooddienswerkers het Maandag 28 Maart ‘n desperate pleidooi tot owerhede gerig om dringend te kyk na die veiligheid van motoriste op die R30 tussen Bothaville en Allanridge ná die soveelste emosionele toneel die afgelope twee maande, homself pas op die pad afgespeel het toe polisieduikers weer vier liggame uit die water van ‘n pan langs die R30 gehaal het.

Dit bring die dodetal op die gedeelte van die pad sedert 29 Januarie nou op 19 te staan met nog minstens 42 mense wat hier beseeer is in ongelukke wat bykans daagliks op die pad gebeur.

Hoewel daar duidelike spoedborde en waarskuwingstekens weerskante van die pad is, is daar nie padreëlings nie, en vind die meeste ongelukke op die pad saans en in die vroeë oggendure hier plaas.

Die vermoede is dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde deel van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg.

 

Met die skryf van hierdie berig was dit nog nie seker wanneer die ongeluk plaasgevind het waartydens die motor wat pas uit die water gehaal is, in die water beland het nie.

Die ongeluk wat die lewens van hierdie vier mense ge-eis het, was reeds die vierde ongeluk sedert Donderdag 24 Maart.

Ernstige skade aan die teervlak is vroeg in Februarie aangerig ná swaar reën toe die pan se water oor die pad gespoel het Eers is grondwalle  gegooi en toe dit tot nog ongelukke gelei het, is ‘n kontrakteur gekry om die pad hier hoër te maak as die watervlak.

Hoewel baie motoriste meen die pad is veilig, glo hulle dat spoed en die verontagsaming van waarskuwingsborde dalk die rede is vir die talle ongelukke op die pad.

 

Related Articles

Back to top button