NewsNews

Bejaardes is swendelaars se grootste teiken – wees gewaarsku

Verlede week is daar binne twee dae weer vyf gevalle van bedrog aangemeld in Parys waar meestal bejaardes gevang is met slim slenters om hulle van hul swaarverdiende spaargeld te beroof. Jy moet maar weet – as iets té goed klink om waar te wees – dan is dit! En as jy eers gevra word …

Verlede week is daar binne twee dae weer vyf gevalle van bedrog aangemeld in Parys waar meestal bejaardes gevang is met slim slenters om hulle van hul swaarverdiende spaargeld te beroof. Jy moet maar weet – as iets té goed klink om waar te wees – dan is dit!

En as jy eers gevra word om geld oor te betaal in ‘n rekening voordat jy jou prysgeld kan kry – dan moes jy al die rooi ligte sien flikker het.

In van die jongste voorvalle is mense gevang met die storie dat hulle kwansuis geld op Instagram gevang het, maar dan moet daar net eers ’n ou bedraggie betaal word. En siedaar – weg is jou geld. Jou geld wat jy vrywilliglik oorbetaal in iemand wie jy nog nooit ontmoet het nie se rekening.

Nog ‘n slenter wat gebruik word is dat daar kwansuis ’n transaksie op jou bankrekening deur is wat nie gemagtig was nie, en dat jy net gou die 3 klein nommertjies agter op jou bankkaart moes lees sodat die transaksie omgekeer kan word.

Die slinkse bedrieëers het reeds al jou inligting – dikwels selfs by watter bank jy ’n rekening het, of probleme wat jy met jou rekening onlangs gehad het. Maar moenie glo nie – gaan maar eerder na jou naaste tak en gaan maak self seker of die storie waar is. Selfs die polisie se naam word gebruik deur die swendelaars wat jou vra om geld oor te betaal om byvoorbeeld ‘n gesteelde voertuig wat gekry is, aan jou terug te besorg. Die polisie sal jou onder geen omstandighede bel met so ‘n versoek nie.

Selfs staatsdepartemente en private instansies se name word deesdae gebruik om valse vakatures te adverteer, en sodra jy al jou inligting verskaf het, of geld oorbetaal het, is dit ook die laaste sien van jou geld en die beloofde pos. Moenie ingaan op webtuistes wat jy nie ken of kan vertrou nie. Wees versigtig en waaksaam wanneer jy sosiale media gebruik.

Wees eerder oorversigtig as om blindeling aanlyn aankope op allerhande web- en Facebook blaaie te doen, of vriendskappe te smee met mense wat jy van geen kant af ken nie. Jy moet weet swendelaars verdwyn net so vinnig as wat hulle op jou selfoonskerm verskyn.

As jy dan weer die nommer sou skakel of die webtuiste wil besoek, is hulle skoonveld. As jy bejaarde vriende of ouers het, waarsku hulle asseblief want dit is juis bejaardes wat dikwels die teiken van hierdie gewetenlose bedrieërs is.

Bankkaartdiefstal vind ook steeds plaas en moet jy onder geen omstandighede toelaat dat iemand jou by ’n kitsbank help nie. Jy kan amper seker wees dat daar met ’n kitsbank gepeuter is as jou kaart nie in die kaartgleuf wil in nie, of vassteek. Moet ook nie dan na ‘n ander kitsbank in die omgewing gaan nie, want dikwels word meer as een kitsbank in ‘n omgewing gesaboteer.

Moenie saans of laatmiddag gaan wanneer dit verlate by die kitsbank is nie, en moet nooit nooit nooit jou pinnommer of kaart vir iemand anders gee nie. Met huisbrake en diefstalle wat ook kommerwekkend hoog is in die dorp, moet jy seker maak jy laat niks waardevol in jou erf of jou huis oop en bloot rondlê nie. Dit is beslis ’n uitnodiging vir diewe.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button