News

Só het vyf weggooi babas hier ’n tweede kans op lewe gekry

Só het vyf weggooi babas hier ’n tweede kans op lewe gekry

 

 

 

Baie het nooit die kans op lewe gehad nie – weggooi babas. Gekry op vullisstortingsterreine, in asblikke, toilette..

Ook hier in Parys se begraafplaas staan twee kindergraffies met grafstene, opgesit deur die Emunah Foundation, vir twee naamlose kinders. Een gekry in ‘n veld in die nywerheidsgebied van Parys. ‘n Tweede gekry in Koppies.

Weggooi babas wie se liggaampies al erg ontbind was toe hulle gekry is. Grafstene wat die hartseer storie vertel van ‘n samelewing waar kinders weg- gegooi word. Net drie weke gelede is ‘n volmaak geskape babaseuntjie, pasgebore, weggegooi op die stortingsterrein net buite Parys tussen die afval van mense.

Tog is die ironie dat Parys al sedert 2016 juis deur middel van die Emunah Foundation gerat is om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word, te help voorkom deur die Wall of Life. ‘n Projek waarmee reeds vyf van hierdie weggooi babas in Parys ‘n tweede kans op lewe gekry het. Die Wall of Life-projek is aanvanklik deur ‘n polisielid, wyle Michelle Stephenson van Vanderbijlpark begin met die Jessica’s Wall of Life projek.

Sy is in 2006 as polisielid uitgeroep na ‘n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ‘n baba wat weggegooi is. Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal en toegesien dat sy met waardigheid soos haar eie kind begrawe is.

Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ‘n aborsie, of om weggegooi te word deur ‘n ma wat voel dat sy geen ander opsie het nie.

Die Wall of Life is ‘n “kluis” met ‘n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ‘n alarm af by die hospitaal of plek waar die muur is, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultravioletligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba.

Die baba word dan versorg totdat ‘n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg.

Emunah Foundation se Wall of Life is by hul perseel by Eerstelaan 50, en word die kluisalarm 24 uur, sewe dae per week deur Parys Sekuriteit gemonitor.  

 

 

   

Sedert die Viljoens in Julie 2015 die Emunah Foundation in Parys gestig het as nie-winsgewende maatskappy, het 42 kinders hier al ‘n tydelike en veilige hawe van hoop gevind. Twee van hierdie kinders is in die babakluis gekry net enkele maande sedert Junie 2021 toe Emunah Foundation van Schilbachstraat na Eerstelaan verhuis het. Die twee babas is steeds in die Viljoens se sorg sedert Oktober en Desember 2021 onderskeidelik en is een van die babas in die proses om aangeneem te word. Toe Emunah nog by die Schilbachstraat-perseel was, is drie babas oor ‘n tydperk van sewe jaar in die babakluis gekry.

Van die 42 kinders in totaal wat al tydelik in die Viljoens se sorg geplaas is, kon 21 teruggeplaas word by hul families, tien is aangeneem, tien in pleegsorg geplaas en een is oorlede. Vir jare kyk hierdie egpaar met soveel toewyding en liefde na verwaarloosde, weggegooide en mishandelde kinders wanneer hul in hul sorg geplaas word – sommige vir maande lank. Hulle werk nou saam met die maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie, asook die SAPD en die hospitaal.

Die Viljoens het die groot nood raakgesien van slagoffers van huishoudelike geweld en ander omstandighede wat te midde van die trauma geen veilige heenkome het, dikwels juis na-ure en oor naweke. Worstelende vrae van polisielede en maatskaplike werkers wat maar van die rolspelers in hierdie proses is wat moet hulp verleen, maar dikwels gekonfronteer word met die werklikheid van ‘n gebrek aan plekke van veiligheid in Suid-Afrika waar hierdie kinders tydelik versorg kan word. Min weet van die ure wat Colin en Sonja Viljoen saans wakker sit om ‘n kind wat hulle nie ken nie te troos, medisyne te gee of ure lank by die kliniek of ander rolspelers te sit en wag op hulp. Maar dis kinders na wie hulle wil uitreik in ‘n stukkende wêreld.

‘n Huis waar daar liefde is ook vir kinders wat dikwels nog net die skadukant van die lewe gesien het.

Emunah Founda-tion is suiwer afhanklik van die goedhartige skenkings en bydraes van die gemeenskap. Hetsy dit brandstof, kinderklere, kos, of enigiets is wat kan help om te voorsien in die daaglikse behoeftes van ‘n kind – enigiets word deur die egpaar verwelkom wat tans die meeste van die kostes om na hierdie kinders om te sien, self dra.

Mense wat meer inligting oor die Emunah Foundation in Parys wil hê of ‘n bydrae wil maak, hoe gering ook al, kan Sonja by 083 696 7410, of Colin by 072 223 7583 skakel, of ‘n e-pos na emunahparys@gmail.com stuur.

 

 

   

 

   

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button