News

Sakelui, kerke bekommerd oor taverne aansoek

Sakelui, kerke bekommerd oor taverne aansoek

 

 

‘n Aansoek by die Vrystaatse Drankraad vir die verskuiwing van die taverne drankregistrasie vir die Big Daddy Taverne, het sakelui van Parys en die gemeenskap diep bekommerd. Hulle is bekommerd oor wat die impak van só ‘n verskuiwing op toerisme en sakebedrywighede in dié deel van die dorp, maar veral kerke en skole in die onmiddellike omgewing sal hê, sou die aansoek goedgekeur word.

Die taverne is tot nou toe oorkant die taxi-staanplek by Kruisstraat 32 (Father Balinkstraat) bedryf. Daar word nou aansoek gedoen vir die verskuiwing van die drankregistrasie na Kruisstraat 29 (Father Balinkstraat), wat voorheen gedeeltelik as mediese sentrum en kantore gebruik is.

Dié gebou is in die toerisme wandellaan en ontwikkelingskorridor van Parys, aangrensend tot die dorp se hoofstraat wat die toerisme-hartklop van die dorp is. Boonop is dit reg oorkant die dorp se Baptiste Kerk en net enkele meters weg van nóg sewe ander kerke.

In die Vrystaatse Dobbel en Drankwet van 2010 word pertinent deur die Drankraad uitgewys dat drankregistrasies nie binne 500m van ‘n plek van aanbidding of opvoedkundige instelling bedryf mag word nie. Die kennisgewing vir aansoek vir die verskuiwing van die drankregistrasie is op 4 Maart in die provinsiale staatskoerant gepubliseer. Hierin word egter geen melding van die kerke of opvoedkundige instellings binne die 500m afstand wat uitgewys word in die wet, gemaak nie.

Die publiek het nou ná die publikasie van die kennisgewing vir die aansoek, tot 28 Maart tyd om besware in te dien.

Verskeie eedsverklarings van sakelui sowel as die kerke wat geraak word, en die Joyous Kids dagsorgsentrum in Dwarsstraat wat 200m van die perseel is, is saam met meer as 1 400 handtekeninge op ‘n aanlynpetisie, gedryf en geborg deur besighede in die dorp, vroeg vandeesweek aan die polisie oorhandig. Die polisie moet ook ‘n verslag oor die aansoek van Wintics CC indien wat deur die Drankraad in aanmerking geneem moet word.

Die eedsverklarings van predikante en hul verteenwoordigers, sakelui, skole en alle ander geaffekteerdes word ook ingesluit in ‘n verslag wat deur ‘n plaaslike prokureursfirma by die Drankraad ingedien gaan word, sowel as by die plaaslike Drankraad inspekteurs. Van die grootste besware van die publiek met wie Gazette gepraat het, is die gebrek aan publieke deelname voor die indien van die aansoek, en dat dit nie plaaslik geadverteer is nie, afgesien van die invloed wat dit op sakebedrywighede in die gebied sal hê, en die vrees dat dit sal bydra tot ‘n toename in sosiale kwessies soos armoede en drank- en dwelmmisbruik in dié deel van die dorp.

Die vrese blyk nie ongegrond te wees nie met die gebou-eienaar waar die taverne vantevore was, wat te kenne gegee het dat die huurkontrak vir die taverne nie hernu word nie, omdat die taverne degraderend was vir die omgewing waar dit bedryf is, en ‘n gesondheidsrisiko geskep het. Dit word beaam deur ander sakelui in Father Balinkstraat wat sê dat die taverne ‘n negatiewe impak op hul besighede gehad het, bygedra het tot rommelstrooiing, sosiale kwessies, sekuriteitsprobleme en die steurnis van harde musiek.

Volgens Gustav Dey, ‘n sakeman van Parys, is die spreiligte voor die gebou van Werner Dey Couture wat skuins oorkant die perseel is waarvoor nou aansoek gedoen word, reeds die afgelope drie weke drie keer gesteel. Hulle gee ook soos dit nou is al daagliks brood aan mense wat hier om hulp kom aanklop.

Hy en ander sakelui, vrees dat misdaad en armoede nou net na dié deel van die dorp sal verskuif, naby aan die hoofstraat wat veral naweke ‘n toerismebedrywigheid is. Hierbenewens is daar kommer oor samedromming en die invloed wat die taverne op verkeersvloei in Kerk- en Father Balinkstraat sal hê. Hoewel daar ander ondernemings met soortgelyke drankregistrasies in die dorp se hoofstraat is, meen sakelui dat dié ondernemings nie ‘n probleem is nie, omdat dit restaurante is wie se kliëntebasis families is, en/of drank nie op die perseel verbruik word nie.

Benewens die Baptiste Kerk wat 30m van die perseel is waarvoor aansoek gedoen word, is die NG Moedergemeente 50m daarvandaan, die PPK 280m, Metodiste Kerk 290m, Anglikaanse Kerk 370m, Lede in Christus Kerk 450m, Moslem Moskee 420m, AGS Sion 500m, Alitheia Kerk 720m, Gereformeerde Kerk 850m, APK 900m, NG-Oos 910m en die Hervormde Kerk 990m.

Mense het nog tyd om by Kriek & Van Wyk & Scheepers prokureurs hul eedsverklarings in te dien, of die aanlyn petisie te teken by https://www.parys.co.za/online  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button