NewsNews

Ses uit elke tien is finansieël slegter af as drie jaar gelede

Ses uit elke tien is finansieël slegter af as drie jaar gelede

 

 

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ’n landwye gemeenskapsanalise gedoen wat verstommende resultate gelewer het. Dit vestig die aandag op uitdagings wat die land se maatskaplike werkers tans in die gesig staar.
Christia Potgieter, Helpende Hand se hoof van maatskaplikewerkdienste, sê die soeklig word op Internasionale Maatskaplikewerkdag (15 Maart) op die professie van maatskaplike werk dienstegeplaas.
“Daar word nou, meer as ooit tevore, baie druk op individue, gesinne en gemeenskappe se emosionele, finansiële en fisiese welstand geplaas, en maatskaplike werkers speel ’n integrale rol omhoop uit wanhoop te skep. Die belangrike bydrae wat maatskaplike werkers daagliks in die samelewing lewer, kan nooit ongesiens verbygaan nie, en dit is gewoonlik hiérdie professie wat eerste optree om orde uit chaos te skep,” sê Potgieter.
Solidariteit Helpende Hand het onlangs ’n landwye gemeenskapsanalise gedoen. Meer as 15 000 respondente in Afrikaanse gemeenskappe het aan die analise deelgeneem.
Die volgende behoeftes het uitgestaan:
 ongeveer sewe uit elke tien mense het ’n behoefte aan finansiële leiding;
 ongeveer ses uit elke tien mense het ’n behoefte om uit skuld te kom;
 ongeveer ses uit elke tien mense is finansieel slegter af as drie jaar gelede;
 een uit elke twee mense beleef depressie, angs en eensaamheid in hulle gemeenskap;
 een uit elke twee mense ervaar huwelikskonflik;
 een uit elke vier mense beleef drankmisbruik in hulle gemeenskap;
 een uit elke vier mense beleef onbeplande swangerskap en egskeiding in hulle gemeenskap;
 een uit elke vier mense beleef geweldsmisdaad en boeliegedrag in hulle gemeenskap;
 een uit elke vyf mense kan met tye nie medikasie bekostig nie.
Potgieter sê Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste glo dat uitdagings soos hierbo genoem die beste deur gemeenskapsontwikkeling gehanteer word, aangesien almal binne ’n bepaalde gemeenskap oor menslike potensiaal en egokragte beskik.
“Die resultate wat deur bogenoemde studie verkry is, bepaal dus die tipe programme en projekte wat noodsaaklik is in ’n gemeenskap, en die span maatskaplike werkers van Solidariteit Helpende Hand is toegewyd en passievol om doelgerigte programme en projekte beskikbaar te stel om kwesbare kinders, gesinne, senior burgers en persone met gestremdhede te ondersteun en saam met hulle hul volle potensiaal te ontgin,” sê sy.

 

 

Related Articles

Back to top button