News

Eers besighede, nou huise in inbrekers se visier

Eers besighede, nou huise in inbrekers se visier

 

 

Terwyl daar verlede maand ’n groot toename in inbrake by besighede in die sentrale sakekern van Parys was, is dit nou huisbrake wat aan die toeneem is. Meeste van die huisbrake gebeur in die vroeë oggendure. Die polisie het reeds verskerpte patrollies ingestel, maar jy kan help deur nie jou vullissakke al die vorige aand uit te sit nie. Dit moedig beweging in die strate aan. Dit is ook belangrik dat jy jou deel sal doel in jou woonbuurt deur betrokke te raak by buurtwagte, en op te let na verdagte bewegings in jou omgewing. Meld diefstal by die polisie aan. So kan tendense en omgewings waar misdaad hoog is bepaal word wat weer die polisie in hul taak help.

Daar is oor die naweek by Standard Bank ingebreek nadat inbrekers toegang deur die dak van die gebou gekry het. Niks is gesteel nie, maar is springstofhonde bloot as voorsorgmaatreël gekry om die tak te deursoek voordat die bank weer sy deure Maandagoggend vir kliënte oopgemaak het.

Mense word aangeraai om snags ook hul alarmstelsels te aktiveer en seker te maak jy laat nie waardevolle items sigbaar in jou huis rondlê nie.

Daar was Maandag ook weer twee voorvalle van bankkaartdiefstal in die dorp aangemeld. Asseblief moenie hulp van vreemdes by kitsbanke aanvaar, of toelaat dat iemand jou aandag aftrek terwyl jy besig is met ’n transaksie nie.

Wees ook versigtig wanneer jy aankope op die internet doen. Daar is steeds gereeld voorvalle waar mense duisende verloor omdat hulle ter goedertrou geld oorbetaal aan internet-swendelaars. Jy kan nie geld oorbetaal in ’n rekening as jy nie seker is wie die rekeninghouer is nie. Gewoonlik bestaan die selfoonnommer waarna jy geskakel het binne minute nie meer nadat jy geld aan ’n swendelaar oorbetaal het, en is jou swaarverdiende geld weg.

In nog ’n slenter die afgelope week het ’n man geskakel onder die dekmantel dat hy kwansuis van die polisie se voertuigtak is, en sy niksvermoedende slagoffer om die bos gelei met ’n storie dat hy ’n bedrag geld moet oorbetaal om sy gesteelde voertuig te laat sleep, sodat dit dadelik aan hom terugbesorg kan word en nie deur die polisie gestoor word nie. Onthou dat die polisie jou nooit geld sal vra om ’n voertuig te sleep of te stoor nie. Bedrieërs se stories klink eg – moet jou nie vir ’n slap riem laat vang nie, en maak maar eerder seker of die storie waar is.  

 

   

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button