NewsNews

Kunswerke al wat nou oor is by gestroopte stasie

Kunswerke is al wat nou oor is by gestroopte stasie

 

 

Parys-stasie het op sy dag onder stasiemeester, wyle mnr. Peet van der Poel, pryse gewen vir die mooiste stasietuin.

Net meer as ‘n jaar gelede het Gazette nog berig oor die suksesverhaal van dié treinstasie wat ná jare se hartseer verval en lang onderhandelings met Transnet, uiteindelik sowat 10 jaar gelede aan die spoorlynspesialis maatskappy, Skyrail Edms (Bpk.) verhuur is.

Danksy Skyrail is die gebou met sy ryk geskiedenis toe gerestoureer teen ‘n koste van nagenoeg R300 000 oor ‘n tydperk van meer as ‘n jaar, waartydens onder meer al die vensterrame met hout vensterrame vervang is om as hoofkantoor van die maatskappy te dien. Een van min suksesverhale wat ‘n storie vertel het van ‘n era toe treine nog die land vol geloop het.

Maar nou is die eens spog treinstasie net ’n bouval wat deel is van die statistiek van treinstasies in die land wat gestroop en geplunder word sonder hoop op herstel of vervolging van die skuldiges.  

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto’s Malcolm Moore

Sedert Skyrail se hoofkantoor geskuif het, en die stasieperseel nie meer deur die maatskappy gebruik word nie, het vandale die stasiegebou se dak letterlik stuk vir stuk weggedra.

Die prag muurkunswerke van plaaslike kunstenaars wat die eertydse stasiebedrywigheid uitbeeld, is al herinnering aan ‘n tyd toe selfs ‘n stylvolle kunsuitstalling, net ‘n skamele ses jaar gelede, in die stasiegebou gehou is. Die werke is spesiaal vir die uitstalling geskilder.

 

 

 

 

 

     

 

 

Iewers teen ‘n bouvallige muur die ironiese kennisgewing wat jou herinner om jou hande te was met geen kraan   of wasbak in sig nie.

Toe Skyrail nog die gebou gehuur het, het 24-uur sekuriteit die plundering voorkom, maar nou is daar niks wat plunderaars keer nie. Transnet het in 2001 as deel van sy herstrukturering amptelik die spoorlyn gesluit met Dover wat op die hooflyn was tussen Vereeniging en Bloemfontein.

Dié spoorlyn het vier stasies ingesluit, naamlik Weiveld, Calais, Parys en Vredefort. Van die ander stasiegeboue op dié lyn is daar ook vandag weinig meer te sien. So is die Vredefort-stasie toe dit in onbruik geraak het, in ‘n kleinhandelwinkel omskep. Aanbouings is gemaak na die spoorlyn se kant toe, en was van die oorspronklike stasiegebou nie veel oor nie.

Die spoorverbinding tussen Dover en Parys is in 1905 voltooi, wat daardie jare vir die dorp ongekende groei beteken het omdat dit die dorp meer toeganklik gemaak het vir mense, beide as vakansiebestemming, maar ook as nywerheidsentra. Vir stedelinge het dié dorp se rivieroewer en swemplek ‘n absolute bekoring ingehou. Graniet wat in die Parys-omgewing gemyn is en waarvoor die dorp ook bekendheid verwerf het met sy unieke ‘pienk graniet’ wat jy ook by die Voortrekkermonument te siene kry, is onder meer by dié stasie gelaai en dan per spoor vervoer.

Die verlenging van die spoorlyn na Vredefort het waarskynlik eers later gekom, bes moontlik ook in die vroeë 1930’s. Vredefort se stasie was nagenoeg 16km vanaf Parys, en was die laaste stasie op dié lyn. Met die destydse restourasie deur Skyrail was Parys bevoorreg om een van min stasiegeboue in die land te wees wat gerestoureer was.

Dié wat wel herstel is, is as koffiewinkels of restaurante gebruik. Parys-stasie was daarom uniek omdat dit deur ‘n maatskappy in die spoorlynbedryf gebruik is.

 

Related Articles

Back to top button