NewsNews

Motorfietsryers maak harte oop vir Genevieve se ruiter-droom

Motorfietsryers maak harte oop vir Genevieve se ruiter-droom

Toe Joe Koppies soos hy na homself verwys, op ’n dag die skraal blinde meisie in Wranglers, ’n kuierplek, in Parys, ontmoet het, waar sy haar ouers, gehelp het, het die lewensverhaal van Genevieve Croeser, en haar ongelooflike deursettingsvermoë hom aangegryp.

Sy het hom vertel dat sy, wat reeds ’n kranige perderuiter is, gereed was vir ’n nuwe uitdaging. Sy wil kompeterend vatresies (barrel racing) doen met haar perd, Shalako. In sy hart het Joe geweet dat hy en die Old Schoolers, wat elke Woensdag die lang pad op hul ysterperde vat om saam te kuier, iets spesiaal vir Genevieve wil doen vir wie elke uitdaging ’n aansporing is. Iets wat haar nader aan haar droom sou bring.

Só het dit gekom dat sowat 60 van die Old Schoolers spontaan bygedra het om die regte saal vir Genevieve te kon koop wat sy sal nodig hê vir die sportdissipline, en is daar selfs genoeg bymekaar gemaak om Shalako se stalfooi vir ’n maand te betaal, en nog ’n paar rand vir ’n bietjie bederf vir Genevieve om te spandeer na haar goeddunke.    

Die Old Schoolers waar hul Saterdag saam met Genevieve Croeser in Parys gekuier het om hul bydrae aan haar te oorhandig om haar ruiterdroom te bewaarheid. Inlasfoto: Genevieve het self ook ’n kans gekry om op een van die motorfietsryers se ysterperde te kon sit. By haar is een van die groeplede, Jannie Kitching (regs) wat in 1996 sy sig verloor het, en spesiaal saamgekom het om haar te kom ontmoet.

Genevieve het haar nog nooit laat onderkry deur die uitdagings wat oor haar pad gekom het nie, en het sy in 2021 haar matriekeksamen met nie minder nie as vyf vakonderskeidings geslaag in ’n normale skool vir leerders sonder gestremdhede.

Sy was selfs die Vrystaat-wenner van die 2021 ATKV Senior Olimpiade vir Afrikaans Huistaal, en het in 2021 as gestremde ruiter teen nie-gestremdes gekompeteer by die Sanesa Nasionale kampioenskappe vir Western Riding.

Sy is tans besig om aanlyn Equine Behavioural Science and Pshychology te studeer.

Wanneer jy haar sien hoe sy met geoefende hande self die borsels raakvat om haar perd te roskam, is dit nie net die hegte band tussen perd en ruiter wat jou opval nie, maar die stil getuienis van aanhou en nie moed verloor nie, van waagmoed en durf om in ’n siende wêreld selfstandig oor die weg te kom.

Genevieve is prematuur op 28 weke gebore en het die hoë suurstofvlakke waaraan sy in die broeikas blootgestel was, haar kornea en retina laat skeur. ‘n Toestand bekend as retinopatie van prematuriteit. Sy was van die begin af heeltemal blind in haar regteroog en het net 7% sig in haar linkeroog gehad. Op 2-jarige ouderdom het sy die bietjie sig wat sy gehad het ook verloor.

Die Old Schoolers wat Saterdag hier was, is van Vanderbijlpark, Sasolburg, Vaalpark, Vereeniging en Koppies.

Een van hul groeplede, Jannie Kitching, het in 1996 self sy sig verloor ná ’n werksongeluk. Jannie was ook die oggend hier om met Genevieve te gesels en haar sterkte toe te wens vir haar nuwe uitdaging. 

 

 

Die Old Schoolers is nie ’n motorfietsklub nie, maar ’n groep motorfietsryers, wat dieselfde passie vir motorfietse deel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button