NewsNews

“My pragtige seun is weg”

“My pragtige seun is weg”

 

Sondag sou ’n familiedag wees. Die dag waarop klein Anro Botes se 7de verjaardag gevier sou word. ’n Dag wat sy oom, Tredoux Odendaal (37) vir niks sou mis nie, maar niks kon die familie voorberei vir die onbeskryflike hartseer van die skiellike dood van Tredoux, op klein Anro se verjaardag nie.

Tredoux het Saterdagmiddag spesiaal Parys toe gekom vir Anro se verjaardag Sondag. Kort na middernag het Tredoux wakker geword en was hy baie benoud. Die familie het ’n asma-aanval vermoed en dadelik noodmediese personeel se hulp ontbied, maar die asma-aanval het tot ’n hartaanval gelei en is daar tevergeefs om sy lewe geveg.

Iemand het op ’n keer geskryf, wanneer ’n kind sterf struikel die son. Die onbeskryflike seer van ’n ouerhart – “My pragtige seun is weg.”

Tredoux was besonder talentvol, ’n bitter harde werker en iemand wat gou raakgesien is in die televisiebedryf op ’n baie jong ouderdom. Tredoux is op 12 September 1984 in Welkom in die Goudvelde gebore, en matrikuleer hy aan die Hoërskool Wessel Maree in Odendaalsrus.

Daarna het hy BSc Toerisme met Plant- en Dierkunde gaan studeer.

Vir 4 jaar was sy stem gehoor as solis van die Alabama-studentegeselskap  tydens sy studentejare aan die NWU se Puk-kampus.

Ná hy sy graad gekry het, het hy vir ’n tyd in die Parys Toerisme- en Info-sentrum gewerk – dié tyd toe Vredefort tot Wêrelderfenisgebied verklaar is. Dit is hier waar hy deur ’n televisiespan raakgesien is, en waar sy betrokkenheid by die TV- en vermaaklikheidsbedryf begin het.

Hy was oor die jare onder meer betrokke by die KykNet-reisprogram, Trapsuutjies, die SABC3 misdaadreeks, Solving it, waarvoor hy ‘Art director” was, en produksiebestuurder van Villa Rosa, Isibaya en die Legacy drama-reeks wat nog tot einde Februarie geskiet word en vir ’n ruk lank nog op die skerm sal wees vir kykers. Hy sou ook nou met ’n nuwe reeks begin het.

Die gedenkdiens sal Vrydag 25 Februarie om 11:00 vanuit die NG gemeente Parys-Oos gehou word, en word Tredoux in liefdevolle herinnering onthou deur sy ouers, Truter en Tilla, sussie Suré, en swaer, Juan, en hul kinders Jana en Anro Botes, en sy lewensmaat, Shane Vorster.

Tredoux het in Sandton gebly.

Ons opregte medelye aan die Odendaal-gesin en familie.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button