NewsNews

Wees gewaarsku: Gehelp en toe beroof

MOENIE HULP VAN VREEMDES BY KITSBANKE AANVAAR NIE

Wees gewaarsku! Die polisie in Parys kry  weekliks gevalle waar mense geld verloor nadat hulle toegelaat het dat vreemdes hulle by ‘n kitsbank help. Dit is veral die kitsbank in die Pick ‘n Pay-sentrum waar mense  op dié manier ingeloop word.

In een van die gevalle vertel ‘n inwoner dat hy gesukkel het om sy bankkaart in die kaartgleuf te sit. Dadelik was daar ‘n gretige of is dit nou gierige “samaritaan” wat maar te graag wou help. Voor hy hom kon kry was sy bankkaart weg en ‘n hele paar duisend rand uit sy rekening daarmee saam.

Die polisie sê dit is veral bejaardes wat geteiken word. As jy bejaarde ouers of vriende het – maak hulle asseblief atent hierop. Daar is al male sonder tal gewaarsku en tog slaan mense nie ag op die waarskuwings nie. ‘

n Ernstige en baie dringende beroep word ook op alle personeel van tehuise vir bejaardes gedoen om hierdie boodskap onder ons bejaardes se aandag te bring. Misdadigers is gewetenloos en kies dikwels juis weerlose mense as hul slagoffers.

Onthou die volgende:

JY KAN ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE ENIGE HULP VAN VREEMDES HOE BETROUBAAR EN EERLIK HULLE OOKAL MAG LYK BY ‘N KITSBANK AANVAAR NIE.

JY KAN NIE JOU PINNOMMER VIR ENIGEEN GEE NIE.

JY KAN NIE TOELAAT DAT IEMAND VREEMD JOU HELP OM ‘N KITSBANK TRANKSAKSIE TE DOEN NIE.

AS JY SUKKEL MET JOU BANKKAART BY DIE KAARTGLEUF IS DAAR HEEL WAARSKYNLIK GEPEUTER AAN DIE MASJIEN. DRAAI OM EN LOOP DADELIK MOENIE VERDER PROBEER OM JOU KAART IN TE FORSEER NIE. MOET OOK NIE VAN ‘N ANDER KITSBANK IN DIE NABYE OMGEWING GEBRUIK MAAK NIE. GEWOONLIK WORD DAAR MET MEER AS EEN KITSBANK IN ‘N OMGEWING GEPEUTER.

RAPPORTEER  MISDAAD BY DIE POLISIESTASIE – OOK DIEFSTAL EN BEDROG BY KITSBANKE. DIT HELP DIE POLISIE OM MISDAADTENDENSE OP TE TEL EN IN DAARDIE OMGEWING MEER PATROLLIES TE KAN DOEN EN SO ‘n WAKENDE OOG TE HOU.

Internetbedrog

Met baie transaksies en inkopies wat deesdae op die internet gedoen word, is die geleentheid vir bedrog soveel groter.

Ook hier luister mense nie na waarskuwings nie en het baie Parysenaars  al op die harde manier vir hulself ‘n kat in die sak gekoop of geld verloor.

‘n Kranige verkoopsman kan selfs ys aan ‘n eskimo verkoop, en moet jy daarom des te meer op jou hoede wees as dit by die internet kom waar jy die verkoper nie sien nie en dit dikwels moeilik is om besonderhede soos selfoonnommers en adresse na te gaan. Jy kan nie geld in iemand se rekening inbetaal van wie jy geen verwysings van het nie, nie die produk met jou eie oë gesien het nie, en nie seker is dat die webtuiste of profiel van die persoon met wie jy besigheid doen, eg is nie.

Dit gebeur baie dat slagoffers agterna wanneer die geld reeds oorbetaal is agterkom die selfoonnommer en adres van die verkoper bestaan nie meer nie. Meestal onmiddellik nadat die geld oorbetaal is. Die spore word sommer gou doodgevee.

As iemand eers aanhou vra dat jy dan vir dit en dan vir dat nog geld moet oorplaas, twyfelagtig is en rondspring met reëlings of druk op jou wil plaas om die transaksie dadelik af te handel, moet jy maar eerder twee keer dink.

Moenie glo nie – van ‘n hoender tot ‘n boot en noem maar op is al deur swendelaars gebruik om mense van hul swaarverdiende geld te beroof deur internettransaksies. Gebruik eerder webtuistes en aanlyn diensverskaffers wat ‘jy seker is jy kan vertrou as jy ‘n internet transaksie wil doen.

Moenie dink jy is die enigste een wat soek na ‘n winskopie nie. Misdadigers weet ook presies waarna hulle soek en ken hul goedgelowige slagoffers sommer gou uit.

Related Articles

Back to top button