NewsNews

Wanneer die wonder en skoonheid van Marion se uiterstes in jou hart kom lê

Ná haar eerste kennismaking met Marion het dié eilandwinde tot diep in haar avonturiershart gewaai,

 

 

 

Verbeel jou om vir 13 maande nie gou na ’n winkel te kan ry om jou gunsteling sjokolade of ander inkopies te gaan kry nie. Nie jou motor te bestuur nie, en te stap waar jy wil kom met reënstewels met versterkte staalpunte, want geen ander skoene kan dié terrein hanteer nie. Om nie te bekommer of jou huis gesluit is nie.  

Marion-eiland se Koningpikkewyne  

Die suiwer eenvoud van die natuur tasbaar om jou te kan ervaar in ‘n veldhut, en te luister hoe die branders teen die rotse breek. Die grootste vlieënde voël in die wêreld, die ‘Wandering Albatross’, met ‘n gemiddelde vlerkspan van 3 meter, verby te sien vlieg en ‘n Antarktiese pelsrobwelpie na sy ma te hoor roep. Vir baie mag die naam Marion-eiland nie veel meer wees as ‘n eiland 2 160 km weg van Suid-Afrika in die Suidelike Oseaan nie, maar vir oud-Parysenaar, Anché Louw (Müller), was dié vulkaniese eiland met sy koue, nat weer, ruwe terrein en winde wat jou letterlik van jou voete af waai, ‘n ongelooflike lewenservaring. Anché het die voorreg gehad om op beide die sub-Antarktiese Marion-eiland en op die Antarktiese kontinent te kon werk. Deesdae deel die oud-Parysenaar ook haar passie vir natuurwetenskap met leerders nadat sy haar nagraadse onderwyskwalifikasie cum laude aan die Stellenbosch Universiteit geslaag het. Met haar praktiese kennis en ervaring as wetenskaplike in die sub-Antarktiese gebied, bring sy die wonder van die wetenskap na die klaskamer waar sy met meer as net boekekennis kan gesels oor onder meer begrippe soos aardverwarming. Haar onderwyskwalifikasie skakel in by haar werk as wetenskapkommunikeerder by die Antarctic Legacy of South Africa (ALSA).

Die reis na Marion-eiland

Anché is na haar matriekjaar aan die Hoërskool Parys na die Universiteit van Johannesburg waar sy ‘n drie jaar graad in B.Sc. Lewens-en Omgewingswetenskappe voltooi het. In 2011 het sy haar honneursgraad in plantkunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, en was dit uiteindelik die ligging van Marion-eiland en sy uitdagings weens die uiterste weerstoestande wat haar laat besluit het om haar navorsingsprojek vir haar honneursstudie daar te doen. Aanvanklik het sy drie weke lank navorsing op die eiland gedoen om te bepaal hoe ver nutriënte, afkomstig van die seelewe aan die kuslyn, beweeg na die binneland van die eiland waar daar nie seelewe voorkom nie. Ná haar eerste kennismaking met Marion het dié eilandwinde tot diep in haar avonturiershart gewaai, en het sy twee jaar daarna in 2013 aansoek gedoen vir ‘n Meestergraad projek wat behels dat veldwerk gedoen moet word op Marion-eiland. Sy het toe aansoek gedoen om as veldassistent in plantkunde deel te wees van die oorwinterspan wat jaarliks van April tot die volgende jaar Mei op die eiland woon en werk. Die oorwinterspan bestaan uit nagenoeg 20 lede. Daar is geen ander bewoners op die eiland nie. Die veldassistente is verantwoordelik vir die versameling van data vir verskeie navorsingsprogramme. Die oorwinterspan is verantwoordelik vir die bemanning en instandhouding van die Suid-Afrikaanse sub-Antarktiese navorsing- en weerstasie.

Veldwerk op Marion

Die navorsings- en verskaffingskip, die SA Agulhas II, vervoer toerusting en passasiers na Marion-eiland in April, en omdat Marion nie ‘n hawe het nie, word alle passasiers dan na die 3 tot 5 dae se seereis, per helikopter na die eiland geneem. Die duur van die skeepsreis word bepaal deur die weerstoestande en die beplande oseanografie navorsing wat plaasvind tussen Kaapstad en die sub-Antarktiese gebied. Die uiterste weerstoestande op Marion maak veldwerk ‘n uitdaging. Anché vertel dat jy jou op Marion kan regmaak vir vier seisoene in een dag met ‘n gemiddelde temperatuur van tussen 4 en 6 grade Celsius. Dit reën 300 dae van die jaar (gemiddeld 2 000 mm per jaar – dus kan jy net met spesiale staalpunt versterkte reënskoene loop – op sommige plekke is dit so nat dat jy skielik tot by jou knieë wegsak), en in die winter sneeu dit. Die wind kan maklik tot 120km/h waai. Met klimaatsverandering beleef die eiland warmer en droër toestande. Tydens haar verblyf op Marion moes sy die eilandplante analiseer om meer te verstaan hoe ‘n sekere groep plante se eienskappe verander om aan te pas by dié weerstoestande. Op Marion het sy ook haar man, Hennie ontmoet. Hy was ‘n veldassistent vir die Marion-eiland soogdier-program van die Universiteit van Pretoria wat navorsing op die Olifantrobbe, Antarktiese en sub-Antarktiese pelsrobbe gedoen het. Ná haar oorwinterjaar op Marion, is Anché nog ‘n keer terug na Marion om te help met opleiding van nuwe spanlede.  

Die ruwe vulkaniese terrein van Marion-eiland. 

Marion-eiland met die kleiner Prince Edward-eiland in die agtergrond.   

Só leef veldwerkers op Marion Die meeste veldwerkers se werk vereis dat hulle daagliks ver en moeilike afstande moet aflê en hiervoor is jy op dapper en stapper aangewese. Die departement van omgewingsake sorg dat jy droog en warm bly met ‘n oorpak, waterbestande broeke en baadjie, dik kouse en reënstewels, en termiese klere vir die ysige koue. By die basis dra veldwerkers gewone klere. Kans vir verveeld wees is daar nie, vertel Anché, maar as jy die slag kans het om te rus, is daar darem televisie, maar geen DStv nie. In een van die TV-kamers is daar smiddae aërobiese oefeninge gedoen, en daar is selfs ‘n gimnasium met basiese toerusting, en ‘n sauna vir wanneer jy na ‘n agt ure dag se loop letterlik pootuit, seer en styf by die basis kom. Elke spanlid kry ook een kookbeurt per maand, en Woensdae en Vrydae was braai-aande. Die departement van omgewingsake beplan en vervoer kos in houers na die eiland maar vir 13 maande sal jy nie gou na ‘n winkel kan gaan as jy skielik lus kry vir ‘n soetigheidjie, of wanneer die eiers opraak en slegs poeiereiers oor is nie. Marion het ‘n hospitaal en apteek-afdeling waar bykans enige toestand behandel kan word, maar sou jy ernstig siek of beseer raak, en nie die ekspedisie kan voltooi nie, kan die SA Agulhas II die eiland binne 2-3 dae bereik.  

Die Marion-eiland basis.

  Anché by die Wandering Albatros – die grootste vlieënde voël ter wêreld wat broei op Marion-eiland. 

 

Anche se man, Hennie, besig met ‘n Olifantrob-sensus.  Op die foto is ‘n bul wat besig is om te vervel. Die vervellling gebeur jaarliks.   

Hier help Anche met die weeg van ‘n olifantrob wat pas van sy ma gespeen is.   

En toe volg Antarktika

Nadat Anché terug was van Marion, is sy werk aangebied by die Antarktiese Erfenisprojek (ALSA) waar sy eers deeltyds wetenskapkommunikeerder was. Haar werk het behels dat sy praatjies by skole en nagraadse instansies moes lewer (en steeds doen) oor Suid-Afrika se wetenskaplike werk in die suidelike oseaan, die sub-Antarktiese eilande, Marion en Prince Edward, Gough-eiland en Antarktika.

Die projek se fokus is om die geskiedenis van Suid-Afrikaners se betrokkenheid in die Antarktiese en sub-Antarktiese dele sedert die laat 1940’s te dokumenteer op die webtuiste www.antarcticlegacy.org, asook die webtuiste van die SA Nasionale Antarktiese Program (www.sanap.ac.za). So word nasionale en internasionale bewusmaking van die land se betrokkenheid geskep.
Die projek het later haar voltydse werk geword.

Die projek se fokus is om die geskiedenis van Suid-Afrikaners se betrokkenheid in die Antarktiese en sub-Antarktiese dele sedert die laat 1940’s te dokumenteer op die webtuiste www.antarcticlegacy.org, asook die webtuiste van die SA Nasionale Antarktiese Program (www.sanap.ac.za). So word nasionale en internasionale bewusmaking van die land se betrokkenheid geskep. Die projek het later haar voltydse werk geword.

Oor Antarktika

Anché het in Januarie 2019 Antarktika besoek om foto’s van onder meer die basis te neem vir die bou van ‘n van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese basis – SANAE IV (Kyk gerus uit hiervoor op die SANAP-webtuiste- kliek hier). Tydens die besoek is artefakte ook gedigitaliseer as deel van die argief. In die 3 weke wat sy by die Suid-Afrikaanse basis was het sy ook die geleentheid gehad om deel te wees van ‘n hoflikheidsbesoek aan die Noorweegse basis (Norwegian Antarctic Station, Troll Station), wat so 300 km weg is van SANAE IV.  

Hoe verskil Marion van Antarktika:

Marion is die eiland vol lewe met sy groen kuslyn, miljoene pikkewyne en ander seevoëls, Antarktiese en sub-Antarktiese pelsrobbe, olifantrobbe en ander spesies wat hier broei. Dit is vir ‘n kort tydperk met sneeu bedek. Antarktika weer is heeljaar met sneeu en ys bedek en daar is min dierelewe by die Suid-Afrikaanse basis. ‘n Droë en ongenaakbare omgewing, en as jy oorwinter by die basis moet jy jou regmaak vir ‘n hele paar pikdonker maande, en maande waar die son nooit gaan sak nie .

Sigbaarheid van aardverwarming

Dis oral ter sprake, vertel Anché. Marion se somers word al warmer en die gemiddelde van 300 dae per jaar se reën word elke jaar minder. In die verlede het ‘n permanente yslaag die binneland bedek, maar tans smelt dit byna weg in die warm tydperk. “Dis ‘n duidelike teken van aardverwarming aangesien ons die eiland as ‘n natuurlike laboratorium beskou, wat beteken dat daar geen fabrieke of motors is wat die verskynsel ‘onnatuurlik’ beïnvloed nie.” Ook Antarktika wys tekens van aardverwarming, met ys wat afbreek en etlike honderde kilometer ver strek.

* Leerders wat die beroepsveld oorweeg of mense wat vrae het is welkom om Anché te kontak by anchemuller@sun.ac.za
Projekte wat tans befondsing het om op Marion-eiland, Gough-eiland en Antarktika navorsing te doen is hier gelys:
https://www.sanap.ac.za/explore/research 

Die navorsingsstasies word beman en onderhou deur die oorwinterspanne, dus word ‘n wye verskeidenheid beroepe gedek (hierdie kan anders verwoord word) van mediese personeel, veldwerkers, ingenieurs tot werktuigkundiges. Klier hier vir meer inligting: https://www.sanap.ac.za/expeditions/#ourteams

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button