NewsNews

Loonverhogings vir huiswerkers en COID: Dit is wat jy moet weet

Loonverhogings vir huiswerkers en COID: Dit is wat jy moet weet

 

 

 

Die Nasionale Minimum Loon is vasgestel en bekendgemaak met ‘n verhoging van 21.5% vir huiswerkers, betaalbaar vanaf 1 Maart. Dit beteken dat huiswerkers se loon nou gelykstaande is aan die algemene Nasionale Minimum Loon (NML) van R23.19.

Plaaswerkers se lone is reeds in 2021 gelyk gestel aan die NML. Onthou dat die minimum waarvoor jy die werknemer per dag kan betaal is vier ure, al het hulle net twee of drie ure gewerk. Onthou ook dat jy nie die geld wat jy vir vervoer of etes wat jy gee kan aftrek van die uurlikse loon van jou huiswerker nie. Die werkgewer kan ook nie eensydig besluit om die werknemer se ure te verminder nie. Daar kan wel ‘n vergadering plaasvind waar dit bespreek word en dan ooreengekom word oor die aanpassing van die ure.

Onthou ook dat elke werknemer geregistreer moet word vir Werkloosheidsversekering (WVF) – al werk die persoon vir verskeie werkgewers. Onthou dit is die werkgewer wat geregistreer moet word en eers dan kan jy die werknemer registreer. As die werknemer minder as 24 uur per maand werk is dit nie nodig om te registreer nie. Dit werk min of meer uit op 5.5 uur 1 x per week. Die werknemer betaal 1% van sy of haar totale inkomste, en die werkgewer betaal 1% van die werknemer se totale inkomste.

Die bedrag moet dan oorbetaal word aan die Departement Arbeid.

Wat sê die Wet op Vergoeding vir Beroepsbesering en Siektes?

Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbesering en Siektes (COIDA) is reeds op 10 Februarie 2021 geteken en stipuleer nou dat alle huishoudings waar daar huiswerkers is, ook moet registreer vir COID. Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes word ‘n huiswerker beskryf as iemand wat sy werk verrig in die huis van die werkgewer. Dit sluit in tuinwerkers, motorbestuurders en enige persoon wat na kinders, ouer persone of siekes omsien. Met ander woorde enige persoon wat in ‘n huishouding werk moet vir COID sowel as vir UIF registreer.

Hoe moet ek registreer?

‘n CF-1E vorm moet voltooi word. Dit is beskikbaar op die Ongevalle Kommissaris se webblad. Nadat die vorm voltooi is kan dit gestuur word na registrationCF@labour.gov.za saam met die volgende dokumente.  Afskrif van die werkgewer se identiteitsdokument  Bewys van werkgewer se adres  Afskrif van die werknemer se identiteitsdokument  Afskrif van werknemer se kontrak. Onthou dat dit ‘n jaarlikse betaling is en dit kan op die webtuiste gedoen word, Return of Earnings of (ROE). Dit word gewoonlik gedoen tussen 1 April en 31 Mei.

Voorbeeld:

Werknemer werk 2 dae per week vir 6 ure per dag teen R23.19. Dit is met ander woorde 12 ure per week x 52 weke per jaar x R23.19 per uur wat dan R14 470.56 per jaar se loon is. Hiervan sal 1.4% dus R202.57 wees wat een maal per jaar betaal moet word, en nie elke maand soos UIF nie. Dit kan nie van die werknemer verhaal word nie.

Die voor en nadele om te registreer.

Die Wet vereis dat jy as werkgewer moet registreer. Dit gee gemoedsrus dat sou enige van jou werknemers ‘n besering aan diens kry, jy nie self verantwoordelik is vir die kostes daaraan verbonde nie. Sulke beserings aan diens kan enige huishouding of besigheid finansieel ruïneer. Verdere voordele vir die werknemer sluit in, maar is nie beperk nie, betaling tot 24 maande van mediese ongeskiktheid, permanente ongeskiktheid bedrag, begrafnisvoordele, voordele vir rehabilitasie, weduwee pensioen en chroniese medikasie. Hierdie artikel is slegs bedoel as ‘n riglyn om meer duidelikheid te gee oor COID en WVF. Die aanbeveling is dat die werkgewer gebruik sal maak van spesialis konsultasies.

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button