NewsNews

Inwoner red professor toe honde aanval

Inwoner red professor toe honde aanval

Rheeder vertel dat dit net genade is dat hy hulp kon kry toe hy magteloos op die grond gelê het met die honde wat op hom toesak.

Wat gewoonlik ‘n roetine drafsessie op ‘n Saterdagoggend (12 Februarie) vir Prof. Riaan Rheeder moes wees het in ‘n nagmerrie ontaard toe twee honde hom aangeval het en hy op sy wang gebyt is.

Die flink optrede van mnr. Chris Willemse, ‘n inwoner in Kampstraat, het verhoed dat Prof. Rheeder, ‘n hoogleraar in die fakulteit teologie verbonde aan die NWU (Noordwes Universiteit), verdere skade opdoen. Willemse het die honde weggejaag en vir Rheeder terug na sy huis in Kockstraat met sy motorvoertuig geneem om mediese hulp te kry.

Rheeder is kort na die voorval saam met sy vrou, Corrie, dokter toe waar hy ongeveer 10 steke gekry het om die bloedbelope bytmerk toe te werk.

Hy het ook ‘n klem-in-die-kaak-inspuiting en antibiotika vir die infeksie gekry.

 

Genade bo genade het Prof. Rheeder nie erger skade opgedoen nie. Hy moet wel in die week weer die dokter besoek om na die infeksie te kyk.

Rheeder vertel dat dit net genade is dat hy hulp kon kry toe hy magteloos op die grond gelê het met die honde wat op hom toesak.

 

“Dinge kon soveel erger gewees het. As dit nie vir Chris was wat kom help het nie, kon daar groot skade gewees het,” noem hy.

 

Rheeder vertel dat hy effens later as gewoonlik sy normale roete vanaf Kockstraat in Kampstraat en weer terug in Kockstraat die afgelope Saterdagoggend (12 Februarie) gaan draf het.

 

Mnr. Chris Willemse (links) het vir Prof. Riaan Rheeder (regs) gered toe twee honde hom die afgelope Saterdagoggend tydens ‘n drafsessie gebyt het. Foto: Wouter Pienaar.

“So drie blokke van die huis af sien ek twee honde, ‘n wit en ‘n swart een. Die wit een het soos ‘n bull terrier gelyk en die swart een meer soos ‘n pitbull kruising. Ek probeer toe om aan die ander kant van die pad verby hulle te draf. Ek was so net verby hulle toe hulle op my afstorm,” vertel Rheeder. Die wit hond het hom eers aan die been gebyt en hom toe grond toe geneem.

 

“Voor ek kon opstaan toe gryp die swart hond my aan die gesig. Ek kon hulle nie alleen afweer nie en alles het so vinnig gebeur,” vertel hy terwyl sy oë begin opwel.

 

Willemse het so net voor 10:00 sy honde buite erg hoor lawaai maak en toe gaan ondersoek instel. Dit is waar hy vir Rheeder op die sypadjie gesien lê het met die twee honde bo op hom.

Prof. Riaan Rheeder wys waar die hond hom aan sy wang gebyt het.

“Ek het net kliphard geskree dat hulle moet weghardloop. Gelukkig het hulle toe, want honde is geneig om aan te hou byt as hulle in daardie aggressiewe bui is. Ek het toe die hek oopgemaak, vir Riaan opgehelp en gesien dat hy baie bloei. Ek het hom toe dadelik na sy huis geneem sodat hy mediese hulp kan kry,” vertel Willemse.

Willemse en Rheeder was by die eienaar van die honde, maar volgens hulle ontken hy dat sy honde aggressief is en mense sal byt. Hy het ook nie om verskoning gevra nie.

“Die eienaar het genoem dat sy hek soms oop en toe gaan en dat die honde dan uitkom. Ek voel dit is die verantwoordelikheid van die eienaar om sy honde in die erf te hou. Wat as my kind of ander skoolkinders gebyt word wat gewoonlik daardie roete skool toe stap?,” meen Willemse.

Rheeder het ‘n saak by die polisie oor die voorval aangemeld. Daar was na bewering ook ‘n vorige voorval waar hierdie honde mense al gebyt het.

“Die enigste raad wat ek vir mense kan gee is dat hulle eerder omdraai en nie ‘n kans vat as daar groot honde is nie. Dit is belangrik vir my dat mense bewus moet wees dat honde wel aggessief kan raak en kan byt. Honde-eienaars moet ook net ekstra moeite doen en hulle honde in hulle erwe hou. Ek is dankbaar vir Chris wat op die regte tyd daar was.”

*Hierdie voorval is die tweede een vanjaar nadat  Dipuo Kokolosi verlede maand deur drie pitbulls aangeval is. Kokolosi het sig in een oog verloor en ander ernstige beserings opgedoen. In daardie voorval is die pitbulls doodgeskiet. 

Lees die oorspronklike berig hier: https://potchefstroomherald.co.za/101628/video-inwoner-red-professor-toe-honde-aanval/

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button