News

Kommer oor NWU se Covid-19 inentingsbeleid

Die NWU verseker dat geen student van enige kampus weggewys sal word op grond van hul inentingsstatus nie

 

Die Noordwes Universiteit (NWU) het in ‘n verklaring vandeesweek bevestig dat Covid-19 inentings nie verpligtend is nie. Dit nadat daar baie onsekerheid onder studente, ouers en belanghebbendes was, met die uitreiking van ‘n inligtingstuk op Vrydag, 4 Februarie oor die universiteit se Covid-19 inentingsbeleid.

 

In hierdie inligtingstuk word daar genoem dat inentingsvereistes benodig word vir toegang tot die kampus, kontakklasse, studenteaktiwiteite, en universiteitskoshuise en akkomodasie. Daar word wel ook genoem dat inentings nie verpligtend is nie en aansoek vir kwytskelding kan plaasvind.

 

Volgens die verklaring op 7 Februarie bevestig die waarnemende visie-kansellier van die NWU, Prof. Linda du Plessis, dat enige personeellid of student wat nie ingeënt wil word nie (op grondwetlike of mediese gronde), om vrystelling kan aansoek doen. “Hierdie aansoeke sal van geval tot geval oorweeg word en kan tot spesifieke beperkinge op die toegang tot enige van die universiteitsomgewings lei.” Volgens die NWU is die veiligheid en gesondheid van almal die eerste prioriteit en daarom sal daar sekere riglyne geimplementeer word. “Die bestuur van die NWU is bewus daarvan dat daar heelwat onsekerhede en vrae onder belanghebbendes oor die bestuur van gesondheid en verwante risiko’s bly, maar wil ons belanghebbendes die versekering gee dat die universiteit alles moontlik doen om ‘n vriendskaplike oplossing vir alle betrokkenes te vind. Dit moet beklemtoon word dat die maatreëls wat ingestel is nie studente  verhoed om ons kampusse te betree of om te verhoed dat hulle hul grade voltooi nie, maar om die gesondheid en veiligheid van al ons belanghebbendes te verseker,” lui die veklaring. Die NWU verseker ook dat geen student van enige kampus weggewys sal word op grond van hul inentingsstatus nie en dat dieselfde reël vir koshuise geld. Die universiteit verwag ‘n totaal van 45 000 geregistreerde kontakstudente oor al drie kampusse gedurende hierdie akademiese jaar. Daar word van hierdie studente verwag om op kampusse te wees. “Om die gesondheid en veiligheid van ons personeel en studente te verseker, het ons ‘n risiko-identifikasieproses begin wat gelei het tot die ontwikkeling van inentingsplanne en standaard bedryfsprosedures (SOP’s) vir beide personeel en studente.”

 
 
Lees die meer die NWU se standaardbedrysprosedures hier:
 
 
Volgens Michal Groenewald, VF Plus-LP en provinsiale leier: Noordwes, is die kommunikasie van die NWU rakende Covid-19 inentings misleidend. “Die NWU loop die gevaar om homself bloot te stel aan siviele aanspreeklikheid vir uitgawes van studente wat aangegaan is op grond van ʼn wanvoorstelling deur die universiteit.” “Die besluit druis ook lynreg in teen die jongste uitgereikte Covid-19-regulasies wat op 1 Februarie in die staatskoerant gepubliseer is. Die regulasies bepaal onder meer dat persone hulself slegs moet isoleer indien hulle duidelike Covid-19-simptone toon en nie indien hulle slegs positief getoets het, maar asimptomaties is nie,” staaf Groenewald in ‘n persverklaring wat dié party gister (Maandag, 7 Februarie) uitgereik het. Volgens Groenewald is die prosedure en voorwaardes vir kwytskelding van die NWU se nuwe reëls  egter nie duidelik omskryf nie. Die VF Plus-jeug op die Potchefstroom-kampus sal studente aanmoedig om hul regte uit te oefen, en sal dié studente wat vir kwytskelding wil aansoek doen, bystaan met advies. “Dit is teleurstellend dat ʼn vooraanstaande universiteit soos die NWU deur skynbare onbeholpenheid soveel onsekerheid en ontwrigting skep met die aanvang van die nuwe akademiese jaar,” noem hy.
 
 

https://potchefstroomherald.co.za/101222/kommer-oor-nwu-se-covid-19-inentingsbeleid/  

 

   

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button