NewsNews

Doornkloof-tragedie: “Ons sal weer opstaan – ons is dit aan Chris verskuldig”

Doornkloof-rampfonds gestig

 

“Ek sien vandag in my geestesoog vir Chris wie toe die dag breek reeds op Doornkloof sou werk en herstelwerk sou doen om seker te maak dat die plaas reg is vir die Voortrekkers. Die afgryse van Chris se tragiese dood en die skok van die geboue se mure wat uitgebreek is en die ou tuin se ringmuur wat reeds 150 jaar al staan, en vertrooid lê oor die ou tuin se gras, is skrikwekkende beelde in ons almal se gedagtes. Maar Chris sou opstaan en opbou,en ons is dit  verskuldig aan hom en aan Afrikaner-kinders. “

Só het Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat vandag, Sondag 6 Februarie, in ‘n stempos gesê ná die tragiese dood van Chris Gillomee (59), terreinbestuurder van die Voortrekkers se Doornkloof-kampterrein buite Lindley.

Die kampterrein is ook goed bekend aan Voortrekker-kinders van Parys wat gereeld op Doornkloof kamp. 

In ‘n  angsnag wat kwalik in woorde beskryf kan word, het vloedwater Vrydagnag 4 Februarie, die lewe ge-eis van Chris toe hy deur die vloedwater meegesleur is terwyl hy gehelp het om van die kinders op die kampterrein na veiligheid te bring. Swaar reën van by die 140mm het Vrydagnag in die distrik geval, en het die Doornkloof-spruit sy walle oorstroom. In die angsure wat daarop sou volg moes onder andere 30+ koorlede en onderwysers  van Hoërskool  Witteberg wat op Doornkloof gekamp het, inderhaas na veiligheid gebring word. Hul bagasie is weggespoel maar was hul almal ongedeerd. Chris se liggaam is later gevind.

Boere in die omgewing het gehelp om die kinders na Lindley terug te bring vanwaar ‘n bussie hulle na Bethlehem geneem het. Engelbrecht het gesê dat daar reeds môre begin word om skoon te maak.

“Ons wil weer opstaan op Doornkloof. Met die krag en genade uit God se hand kan ons opstaan en weer bou op ons plaas.”

Hy het sy opregte dank uitgespreek teenoor mense wat van oraloor hulp aangebied het, en gesê dat die hulp bestuur sal word sodat daar stukkie vir stukkie gewerk kan word om die opbouwerk goed te voltooi. “Ons gaan in die komende maande verskeie projekte moet hê…en op elkeen se knoppie druk. Ons sal verseker van elke aanbod gebruik maak.”

Met die opbouprojek wat eerste gebeur is daar reeds ‘n span bymekaar gemaak van offisiere, staatmakers, algemene werkers en toerusting wat ons ontvang het om met opruimingsprojek te begin, het Engelbrecht gesê.

 

Stukke van die muur by die ou tuin by Doornkloof wat deur die vloedwater verwoes is. Die muur staan al 150 jaar.

 

Skade aan die waskamer by Doornkloof. Vloedwater is ook dwarsdeur die Sarel Cilliers-saal.

‘n Doornkloof-rampfonds is intussen gestig vir die herstel en opbou van die Doornkloof-plaas. Die rekeningbesonderhede is: Doornkloof rampfonds, Absa tjekrekening, rekeningnommer 4102686362.

“Daar is so baie wie ons moet bedank in hierdie dae en ek is so bang dat ons iemand gaan oorslaan omdat daar so baie is.”

Engelbrecht het egter die boeregemeenskap uitgesonder vir hul hulp, al die Voortrekkervriende en Voortrekkers regoor Suid-Afrika en Namibië vir hul boodskappe en aanbiedinge om hulp, en in besonder Rensché van Wyk, Shadrack, David en Penaki se bystand op Doornkloof.

Hy het  weer gevra vir gebede vir Chris se vrou, Jackie, sy kinders, kleinkinders en  familie. Chris sal onthou word vir sy liefde vir die kinders, hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie, sy ongelooflike harde werk, sy poetse wat hy so graag gebak het en sy aansteeklike lag. Die Voortrekkers  eer sy nagedagtenis en sal sy plek op Doornkloof verseker leeg wees vir elke Voortrekker wat hier gekamp het.

In ‘n hartroerende kommentaar op die berig oor Chris se dood op Parys Gazette se Facebook-blad Saterdag, is die volgende inskrywing gemaak deur Wim en Amanda Nell: “Hierdie is skokkende nuus vir ons. Die afgelope twee jaar het ons met Bothaville Hoërskool se leerlingraad daar gekamp. Chris het uit sy pad gegaan om die opleiding so sinvol moontlik aan te bied. Hy was persoonlik betrokke by elke aktiwiteit. DIe instandhouding van die kampterrein was prioriteit vir hom. Ons is so jammer vir almal wat so nou saam met hom gewerk het. Jackie ons harte gaan uit na jou toe. Mag God julle styf in Sy arms vashou.”

Ons harte is stukkend.

Chris se begrafnis sal op Doornkloof gehou word.

Doornkloof was die plaas van die Voortrekkerleier, Sarel Cilliers, wat ook op die plaas begrawe is. 

 

 

Related Articles

Back to top button