KidsNewsNewsParenting News

Is my kind se potloodgreep regtig so belangrik?

Is my kind se potloodgreep regtig so belangrik?

 

 

Sonder enige twyfel is die antwoord op bogenoemde vraag JA! ‘n Kind se potloodgreep het ‘n groot aandeel in hoe vinnig en hoe mooi die kind kan skryf. Op ‘n jonger ouderdom het dit dikwels nie so ‘n groot impak nie, maar soos kinders ouer word kan skryfspoed ‘n reuse impak hê op werkspoed m.a.w. hoeveel inligting hul binne ‘n sekere tydperk kan weergee. Die personeel by die hoërskool sal vir u kan sê dat lg veral belangrik is in eksamen- en toetstye.   As ons gaan kyk hoe potloodgreep ontwikkel kry ons lekker en maklike werkies om hierdie aspek op ‘n jong ouderdom te begin stimuleer. Babas wat kossies met hul vingers eet oefen om goed tussen hul wysvinger en duim op te tel – ons noem hierdie greep die pinser greep. As baba kruip en ietsie in sy hand vashou dra hy die gewig op die pinkie kant van die hand en hou goedjies tussen die duim, wysvinger en middelvinger vas.

Dit is presies wat ons wil sien as kinders begin skryf – die ringvinger en pinkie moet omkrul in die palm om ‘n stabiele basis te vorm vir die ander vingers om vinnig en akkuraat te kan beweeg.   Later help manipulasie werkies om daai vingers sterker te maak dink bv aan konstruksie spel, legkaarte bou en blaai in boeke. Ongelukkig kan te veel TV en telefoon speletjies veroorsaak dat daar minder tyd is om fyner vaardigehede te stimuleer asook minder tyd vir kragwerkies om daai vingers sterker te maak.  

Groot motoriese vaardighede, “core stability”, skouer stabiliteit en balans het ook ‘n groot impak. As maag- en rugspiertjies nie sterk genoeg is en saam werk nie sukkel die kind om vir langer tye regop te sit. Ander spiere word styf gehou om hiervoor te kompenseer wat beteken die spiere wat eintlik moet beweeg word nou gebruik vir stabiliteit. Die onderwys sisteem verwag ongelukkig dat ons kinders op ‘n baie jonger ouderdom begin skryf – baie kere voor daai spiertjies regtig  sterk genoeg is om ‘n goeie potloodgreep toe te laat.  

Hoe lyk ‘n ideale potloodgreep?

Die ringvinger en pinkie moet omkrul in die palm van die hand sodat diè pinkie kant van die hand op die papier kan rus. Die ander drie vingers moet dan die potlood vashou met die punte van die vingers. Die duim en wysvinger moet ‘n mooi ronde sirkel wat effens na bo toe wys vorm. Die duim, wysvinger en ringvinger moet vinnige & gladde sirkel bewegings kan maak in albei rigtings – dis hierdie vingers wat bepaal hoe vinnig die kind kan skryf. Die agterkant van die potlood moet in die rigting van die skouer wys. Die pols moet ‘n effense draai maak sodat die duim in lyn is met die binnekant van die arm  

Is die pols posisie belangrik vir skrif?

Absoluut! Maak ‘n stywe vuis met jou hand en kyk in watter posisie jou pols is. Hou nou iets styf vas en buig die pols na die palmkant van die hand toe – kan jy voel hoeveel krag jou hand verloor net a.g.v. die pols posisie?  

Wanneer is die beste tyd om aan potloodgreep te werk?

So vroeg as moontlik, maar op ‘n speel speel manier eerder as net met ‘n potlood en papier.    

Is die tafel- en stoelhoogte belangrik vir ‘n kind wat sukkel met potloodgreep?

Verseker – as die tafel te hoog is sal die kind sy skouer moet optrek om by te kom, terwyl ‘n te lae tafel veroorsaak dat die kind vooroor buig om te kan skryf.  Die ideale stoel hoogte sal toelaat dat die kind se voete plat op die vloer is vir stabiliteit. Die sitvlak moet agter in die stoel kan bykom en die stoel moet onder die tafel kan inskuif. Die ideale hoogte vir die tafel is ongeveer elmboog hoogte. Onthou dat hoe u kind tuis oefen tydens huiswerk ook belangrik is – as u by die eetkamer tafel werk is ‘n krat onder die kind se voete dikwels ‘n goedkoop opsie om die probleem om te los.  

My kind se potloodgreep is lankal verkeerd – kan ek nog iets daaraan doen?

Ja, deur die tafel se oppervlak effens skuins (probeer sommer met ‘n lekker dik leêr onder ‘n clipboard om te sien of dit werk) te maak dwing mens die pols in ‘n beter posisie, wat dikwels die greep effens beter maak. (Ek het ‘n patroon vir so ‘n skuins bord – stuur gerus vir my ‘n whatsapp as pappa/oupa wat handig is en een wil maak dan stuur ek ‘n foto). Daar is ook verskeie potloodgrepe op die mark om te help – my gunsteling is die cross over pencil grip (sien foto). As u kind gemotiveerd is om die greep te verander kan mens daaraan ook werk, maar as die verkeerde greep lankal vasgelê is is dit dikwels baie moeilik om in die tienerjare aan te spreek  a.g.v. ‘n gebrek aan motivering om dit te verander.  

Watter professionele mense kan help?

Dit hang baie af van die oorsaak van die onvoldoende greep. ‘n Kinderkinetis kan help met die motoriese fondasie vaardighede wat nodig is – veral voorskool en in die fondasie fase. U kind se klasjuffrou of die remedierende juffrou by die skool behoort te kan raadgee oor watter potloodgreep u kind benodig asook basiese oefeninge wat u kan doen. Sport wat spiere versterk soos pilates, yoga, karate, swem & perdry kan voordelig wees om die sitpostuur te verbeter. ‘n Arbeidsterapeut kan spesifieke werkies gee om fyner spiere te stimuleer wat dit makliker maak om ‘n goeie potloodgreep vir langer tye te kan handhaaf.  

‘n Paar idees

  • Kossies wat hul met vingers kan optel – rys, ertjies, klein blokkies brood, kaaskrulle wat mens in 4 breek
  • Speelklei: Maak denkbeeldige kos bv ertjies / rol slangetjies en knyp die slangetjie plat met duim en wysvinger – en dan rol ons daai plat slangetjie op om ‘n slak te maak
  • Papiere skeur: Gebruik sommer ‘n ID boek grootte stukkie ou koerant / tydskrif papier, begin die skeurtjies in die papier as die kind sukkel en laat die kind repe skeur – 1 hand kom na die lyfie toe en ander hand weg van lyfie af. Repe kan in kleiner blokkies geskeur word en dan rol ons die klein papiertjies in balletjies op met daai vingers wat die potlood moet beweeg. Nou skiet ons al die balletjies met wysvinger van die tafel af en ta-da… die kind moet nou op die grond gaan sit en dit optel om in die asblik te gooi – nou kry ons sommer daai lekker gewigdra op die arms
  • Konstruksie werkies soos lego, skroefies vasmaak
  • Wasgoedpennetjies is ‘n uitstekende manier om daai vingers sterker te maak – so mamma van nou af help die kinders kouse en kleiner items ophang as jul wasgoed gewas het.
  • Bordkryt: ‘n duimnael grootte stukkie bordkryt is een van die beste maniere om die regte potloodgreep te oefen. Koop ‘n pakkie gekleurde bordkryt en breek net daar klein stukkie van elke kleur af. Dis lekker om mee te teken op die sement buite die huis en werk wonderlik op letters of syfers te oefen op ‘n swartbord vir Gr R & 1 kinders
  • Werk teen muur oppervlakte i.p.v. op ‘n tafel – sit ongedrukte koerant papier teen die muur op vir tekenplek. Vverf ‘n stukkie muur of ‘n border teen die muur met chalk paint sodat dit sommer ‘n permanente kuns plekkie raak. ‘n Tuna blikkies teen die muur werk wonderlik om daai klein stukkies bordkryt van die vloer af te hou.
  • Help in die kombuis bv groente skil, broodjies smeer en sny – dis lekker gereelde oefening om daair spiere geleidelik sterker te maak.
  • Bou patrone met rekkies op rekkiesborde of sommer ‘n plankie met spykers – hoe dikker en sterker die rek is hoe harder moet daai vingers werk.
  • Aanpassings soos potloodgreep en/of “angled desk top” help ook – dis nou as die kind nie te skaam is om anders te wees in die klas nie.

  Bg raad is so net so ‘n druppel in die emmer, maar ek hoop dat dit iemand sal help om vandag ‘n klein verandering te maak om hopelik eendag ‘n groot impak in jou kind se funksionering te sien.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button