News

VLU: Hier ontdek jy nuwe talente

VLU: Hier ontdek jy nuwe talente

 

Of jy hou van tuinwerk, borduurwerk, masjienwerk, graag in die kombuis werskaf om iets te preserveer of te bottel, hou van kralewerk, mosaiek, pottebakkery, macramé of dalk al jou hand aan skryfwerk gewaag het. Daar is selfs plek vir aspirant fotograwe om iets hier te leer. Vroue het tussendeur die gewoel en gehardloop van ma- en vrou-wees, dikwels ‘n behoefte daaraan om skeppend te wees. Om nuwe vaardighede te leer, idees te ruil, ’n nuwe belangstelling te ontdek en op die koop toe hegte vriendskappe te smee.

Dit is hier waar die Vroue Landbou Unie (VLU), vroue ook in moderne tye bemagtig en die geleenheid bied om haar eie kennis te verbreed en ’n verskil in haar gemeenskap te maak. Kom jy by ’n VLU-byeenkoms sien jy gou dat die persepsie dat dit ’n klomp vroue is wat saam tee drink om ’n bordjie koek, ver verwyder is van dit wat die VLU vroue bied.

Dit is ’n dinamiese groep vroue van wie sommige beroepsvroue is, ander tuisteskeppers, wie se passie vir handvlyt aansteeklik is. Hulle deel graag hul kennis, wenke en vaardighede en leer by mekaar waneer daar elke maand ’n interessante projek aangepak word. Gassprekers kom gesels gereeld oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe wat vroue raak. Hegte vriendskappe word gesmee en vroue kry die kans om buite hul rol as beroepsvrou en ma, hulself te ontdek en die bevrediging te ervaar om te skep met ’n verskeidenheid van handvlyt-tegnieke. Daar is projekte waaraan jy kan deelneem met ’n maandelikse kompetisie – of jy kan bloot kom leer, geniet en steel met die oog, sonder om ooit aan ’n naald en gare te raak, of jouself in die kombuis te begewe om aan die projekte deel te neem. Jy kan selfs as gas die maandelikse byeenkomste bywoon om te luister na ’n spreker, of ’n nuwe handvlyt-tegniek kom leer. Dit maak nie saak of jy jonk of oud is nie, vaardig met jou hande of tien duime aan een hand het, of bloot handwerk kan waardeer – jy is welkom by die VLU.

Parys se VLU-dames het oor jare al op verskeie maniere ’n verskil gemaak en is vanjaar se tema dan ook: My hart is waar my skat is. Kom luister saam wanneer die vroue op 1 Februarie gesels oor, “Vrou in haar omgewing.” Kom kyk watter projekte vir die komende maand aangepak word en gun jouself die bederf van ’n oggend saam met vroue wat graag hul talente uitleef en nuwe talente ontdek. As jy meer inligting oor Parys VLU wil hê of graag die volgende byeenkoms wil bywoon, skakel Bernadet van der Ende by 082 474 0304, of Annatjie Dreyer by 082 464 0204.

VLU-wenk van die maand:

Sukkel met skimmel aanpaksel by jou stort of bad, of ’n vuil oond, probeer dié mengsel. Spuit op die oppervlak en los aan oornag voordat jy dit afvee, vir beter resultate

60ml skottelgoedseep

120ml suurlemoensap

240ml asyn

300m ml water

* Oliekolle op klere kom sommer maklik uit as jy Doom Super daarop spuit. Dit beskadig nie jou kledingstuk nie, en sal dit ook nie laat verkleur nie.  

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button