News

Met dié projek gee ons uit die hart

Met dié projek gee ons uit die hart

Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) loods weer vanjaar sy Met hart-projek en word besighede, skole, kerke en individue uitgedaag om betrokke te raak, en te help om ‘n verskil te maak waar dit regtig saak maak in Parys.

Jy kan deur jou bydrae help om pensioenarisse weer hul waardigheid terug te gee, ‘n ma vir ‘n oomblik laat glimlag, ‘n pa met een bekommernis minder laat, en ‘n tienerseun/meisie met selfvertroue agterlaat. Met dié projek word daar uit die hart gegee.

Die Met Hart-projek het vir die eerste keer in Desember 2020 afgeskop en alle verwagtinge oortref om só ‘n reuse verskil te kon maak in mense se alledaagse lewe. Die projek word vanjaar van 14 tot 28 Februarie geloods. Hoe dra jy by? Enige toiletware waaronder seep, room, tandepasta, sjampoe en deodorant. Die skenkings kan afgelaai word by die VVA-kantoor, Buitenstraat 18, Parys, of daar kan ‘n reëling getref word om dit te kom afhaal. ‘n Artikel 18A sertifikaat kan op jou versoek uitgereik word.

Wat doen VVA in jou gemeenskap?

VVA Parys beskik oor drie maatskaplike werkers en twee hulpwerkers. Hul dienste sluit in die plasing, toesigdienste en assessering van kinders en gesinne vir pleegsorgdienste, asook beradingsterapie en ander statutêre gevalle wat hiermee verband hou.

Vir die huidige finansiële jaar is hulp verleen met:

Opgemaakte kospakkies – 515

Mieliemeelpakke – 238

Eiers – 2 724

Brode – 1 974

Gevriesde brode – 309

Sopkombuis-etes – 1 163

Die Sakpas winkel het 845 stelle klere vir die huidige finansiële jaar gratis uitgedeel aan behoeftiges. Alle skenkings van bruikbare items word aan die publiek uitgedeel soos die behoefte hom voordoen. Indien die VVA ‘n oormaat skenkings ontvang, word daar weer uitgereik na Najaarsrus, die Schonkenville sentrum vir bejaardes en Sonskyn Tehuis vir Bejaardes.

Bekostigbare behuising vir pensioenarisse wat afhanklik is van ‘n staatspensioen en geen ander hulp het nie, is voorsien deur VVA by die Danie Fourie woonstelle waar 13 bejaarde inwoners tans gevestig is, en by Hanlu woonstelle waar ses egpare en sewe enkellopendes tans woon.

VVA se Huis Lerato word aangewend vir die plasing van kinders wat uit die sorg van hul ouers verwyder is en hier ‘n tydelike heenkome onder die sorg van ‘n permanente huismoeder het.

Altesaam 157 persone het verlede jaar ook gebaat by die middelafhanklikheid ondersteuningsprogramme wat in Parys, Tumahole, Schonkenville en Vredefort aangebied is.

‘n Dansgroep is ook deur personeel gestig om kinders produktief besig te hou.

VVA se Huis Vredefort is tans in die proses om omskep te word vir behuising vir behoeftige enkellopende dames.

VVA se satelliet-kantoor in Vredefort is Maandae en Donderdae oop, en die Tumahole-kantoor Maandae tot Vrydae. Die Parys VVA-kantoor is Maandae tot Vrydae van 07:30 tot 16:00 oop. Benewens die Met Hart-projek bied VVA ook ‘n gholfdag aan op 25 Februarie en die baie gewilde Donkey Derby op 25 Maart.

Related Articles

Back to top button