News

Hof bring ’n einde aan gedwonge munisipale beurtkrag vir Parys

Hof bring ’n einde aan gedwonge munisipale beurtkrag vir Parys

 

 

 

Eskom se gedwonge munisipale beurtkrag vir Ngwathe is uiteindelik amptelik iets van die verlede. Die Hoogste hof van Appél het Vrydag in Bloemfontein ná ‘n hofstryd van langer as ‘n jaar Eskom se appél met koste van beide die advokate van die hand gewys. Daar is ten gunste van die Lekwa Belastingbetalersvereniging en die Vaal River Development Association (VRDA) beslis oor die toepassing van gedwonge munisipale beurtkrag in dié Lekwa en Ngwathe munisipaliteite.

Die uitspraak beteken dat verbruikers in hierdie munisipaliteite nie langer gestraf sal word vir die munisipaliteite se onvermoë om hul diensterekening aan die kragreus te betaal nie. Regter Anthony Millar het reeds in 2020 in sy uitspraak in die saak tussen die kragreus en die VRDA en Lekwa Belastingsbetalersvereniging met ‘n tussentydse bevel beslis dat Eskom nie verder gedwonge munisipale beurtkrag in die munisipaliteite kan toepas nie, en sy transformator in die Eskom-substasie in Parys moes herstel om die las op die enkele werkende transformator te verlig.

Eskom het daarna egter aansoek om appél teen die tussentydse bevel gedoen, en het die appélhof in 2021 in afwagting op die aanhoor van die appélsaak, beslis dat die vroeëre tussentydse bevel van waarnemende regter Millar, die uitwerking van ‘n finale bevel gehad het. Dit het tot gevolg gehad dat die bepalings van waarnemende regter Millar se bevel opgeskort is tot die appélsaak aangehoor is, hoewel Eskom wel in die tussentyd die transformator in die Parys-substasie herstel het. Met Vrydag se uitspraak is daar einde ten laas ‘n stokkie gesteek voor Eskom se strafbeurtkrag vir inwoners van Parys en Vredefort, telkens wanneer daar gevaar is vir die oorskryding van die munisipaliteit se gekontrakteerde elektrisiteitvoorsiening.

Parys se kragstryd:

In Parys se geval is die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) meer as tien jaar laas aangepas ten spyte van dorpsuitbreiding en kommersiële ontwikkeling wat die vraag na elektrisiteit drasties verhoog het. Parys se jarelange kragstryd weens sy enorme agterstallige skuld aan die kragreus, is in 2020 op die spits gedryf toe sakelui en inwoners van Parys swaar gebuk gegaan het onder gedwonge munisipale beurtkrag telkens wanneer elektrisiteitsverbruik naby aan die NMD-perk was.

Die munisipale beurtkrag waartoe Eskom Ngwathe gedwing het, is boonop in die verlede ook toegepas in tye wanneer die kragreus self ook nasionale beurtkrag ingestel het. Die gevolg was dat sakelui en inwoners soms vir tot agt ure per dag sonder krag was, terwyl inwoners ‘n reg tot basiese dienslewering het wat elektrisiteitvoorsiening insluit. Hoewel daar na waarnemende regter Millar se bevel danksy kragbesparings meerendeels daarin geslaag kon word om munisipale beurtkrag af te weer, is dit by geleentheid weer in 2021 toegepas – ‘n tyd toe ysige wintertemperature gevoel is.

Adv. Danie Wijnbeek het tydens die aanvanklike aanhoor van die saak voor waarnemende regter Millar in 2020, namens die applikante aangevoer dat Eskom se enigste risiko finansieel is, terwyl ‘n gemeenskap wat aan die plaaslike owerheid betaal, swaar deur munisipale beurtkrag geraak word. Daar is ook gewys op die besoedelings- en gesondheidsgevaar wanneer rioolpompe en waterpompe nie werk nie en rou riool in die Vaalrivier beland. Wanneer pompe nie werk nie, veroorsaak dit ook watertekorte in die dorp en was kragonderbrekings onder meer die rede waarom fabrieke en ondernemings uit gebiede onttrek.

Tydens die appélverhoor einde 2020 het adv. Shangisa (SC) namens Eskom, verduidelik dat NMD deur die kragreus ingestel word om Eskom-toerusting te beskerm. So het Eskom die munisipaliteit gedwing tot rotasie-beurtkrag wanneer 95% van die NMD gebruik is, nadat daar vir jare toegelaat is dat die NMD oorskry is met boetes wanneer die perk oorskry is. Die munisipale raad was herhaaldelik sedert 2011 egter onsuksesvol in sy aansoek by Eskom om sy NMD te verhoog. Eskom het ook vroeër aangedui dat aansoeke vir verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede was dat Ngwathe sy destyds aanvaarde afbetalingsplan nagekom het nie.

Daar is tydens die appélsaak prominent verwys na die Resilient eiendomsgroep se waterskeidingsaak teen Eskom waarin elektrisiteit van betalende sakelui en ander gebruikers in Musina in 2018 en 2019 weerhou is ook weens die plaaslike munisipaliteit se versuim om geld aan Eskom oor te betaal. Die appélhof het in Desember 2020 in die Resilient-groep se guns beslis dat Eskom nie krag kan sny van betalende kliënte as strafmaatreël vir wanbetalende munisipaliteite nie.

Tydens die appélsaak verlede jaar is daar verwys na die groot aantal onwettige aansluitings in beide Ngwathe en Lekwa en die ontploffing in die Eskom-substasie in Parys in 2019 weens oormatige verbruik, wat Eskom genoop het om die besluit te neem om sy toerusting te beskerm teen oormatige verbruik. Adv. Herman van Eeden (SC) het in sy argumente namens die Vaal River Development Association en Lekwa Belastingbetalersvereniging juis die belangrikheid van die aanhoor van die saak voor die appélhof beklemtoon met verskeie ander munisipaliteite wat hulself in soortgelyke situasies bevind waar beurtkrag van tyd tot tyd toegepas word.

* Adv. Herman van Eeden (SC) en adv. Danie Wijnbeek, met Lou van Wyk as opdraggewende prokureur vir die Vaal River Development Association (VRDA), en Andreas Peens vir die Lekwa Belastingbetalersvereniging onderskeidelik, verdien ‘n pluimpie vir die uitstekende en volgehoue werk wat gedoen is om die saak voor die hof te kon bring.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button