News

Ondersoek ingestel nadat spuitvliegtuigvlerk rugbyspeler teen die been tref

Ondersoek ingestel nadat spuitvliegtuigvlerk rugbyspeler teen die been tref

‘n Belowende rugbyspeler sterk tans tuis aan nadat hy byna sy been in ‘n fratsongeluk met ‘n spuitvliegtuig verloor het. Tiaan Daffie (21) is Saterdag, 8 Januarie buite Fochville (Elandsfontein-plaas) deur die vlerk van ‘n spuitvliegtuig (Air Tractor 502) getref wat laag teen die grond gevlieg het.Die vliegtuig was besig om gif oor die landerye te spuit. Daffie is inderhaas na Mediclinic Potchefstroom geneem, waar sy been geopereer is. Sy hele knieskuif was oopgekloof met die weefsel en ligament wat geskeur het.

 

Daffie is verlede Dinsdag ontslaan, maar was toe nog te ongemaklik om met die media te praat. Sy meisie was ook ten tyde van die ongeluk saam met hom en is nog erg getraumatiseer na die voorval. ‘n Video op sosiale media wys hoe die vliegtuig laag sweef en dan in die rigting van Daffie beweeg, al hoe nader aan hom, tot dit hom tref. Die beeldmateriaal stop egter hier.

 
 

Volgens Daffie se regsverteenwoordiger, mnr. Michael Ellis van Jan Ellis prokureurs, is hulle besig om die aard en omvang van Daffie se beserings vas te stel, wat dan op ‘n moontlike regsaak kan uitloop. “Ons is nog besig om al die inligting bymekaar te maak. Ons moet vasstel wat die toekoms vir hom inhou. “Daar kan dalk permanente skade aan sy been wees wat hom kan verhoed om ‘n normale lewe te lei en sy sportloopbaan kan belemmer. “Op hierdie stadium wil ons nie die ondersoek van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) belemmer nie en wag op die bevindinge,” sê Ellis. Marie Bray, woordvoerder van BLO het bevestig dat daar reeds ‘n saak begin is om vas te stel wat die oorsaak van die ongeluk is. Amptenare sal binne die volgende 12 maande ‘n verslag bekendstel. Die vlieënier van die spuitvliegtuig, mnr. Hennie Viviers, kan nie kommentaar oor die voorval lewer nie, aangesien die ondersoek nog aan die gang is. Volgens Ellis sterk Daffie by die huis aan, maar was sedert hy ontslaan is, weer Maandag by die dokter om sy infeksietelling te laat meet.

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button