NewsNews

Is jy iemand wat maklik opgaar?

Hier is wenke om van oortollige goed ontslae te raak

Almal van ons is in ‘n mate seker maar opgaarders. Wat is dan nou lekkerder as om by kunsmarkte, oulike winkeltjies en stalletjies by ‘n basaar of fees rond te stap en daardie ietsie moois vir jou huis te koop? Al weet jy dat jy reeds drie eetstelle, baie potte en oorgenoeg mooi goedjies het om teen die mure te hang, en reeds hordes boeke in jou boekrak het wat jy nog moet lees, moet daar weer gekoop word. Voor jy jou oë uitvee, sit jy met ʼn huis vol items wat net plek opneem, stof opgaar en alles in ‘n deurmekaarspul verander. Dalk is jy ʼn opgaarder wat dit nie oor jou hart kan kry om iets weg te gooi nie of net maklik sentimentele waarde aan dinge heg.

Wanneer vroulief iets wil weggooi, word dit maar vir eers in die motorhuis gestoor. So skuif jy net jou ongebruikte goed van plek tot plek. Nie net veroorsaak ongebruikte items in ʼn huis beperkte ruimte nie, maar maak dit ook moeiliker om skoon te maak. Alles gaar stof op, so hoe meer jy het, hoe meer is daar om skoon te maak. Dit kan oorweldigend en selfs intimiderend wees om ʼn huis te ontrommel en die kenners meen dat ʼn daaglikse 10-minute-ontrommelingsessie soms beter is as om elke ses maande die byna onbegonne taak aan te pak.

Waar begin ek? Begin met die skryfbehoefteslaai in die studeerkamer. Kyk watter penne nog werk en gooi die res weg. Verwyder ou betaalstrokies, skeur ou pos op en gooi alle ander rommelitems in die asblik. Gebruik dan klein houertjies of boksies om alles bymekaar te hou. ʼn Groot probleem in die slaapkamer is klerehangers. Kyk watter klerehangers jy nie gebruik nie of wat vervang moet word en gooi die res uit. Daar is ook hangers beskikbaar waaraan jy sommer ʼn paar broeke of ander items soos gordels, dasse en serpe kan hang.

Dan is daar nog die liewe kas met 30 paar skoene, waarvan jy op die meeste net vyf paar of minder dra. Berei jou sielkundig voor, neem voor die kas plaas (met ‘n lekker beker koffie in die hand) en gooi die skoene en klere uit wat jy nie meer dra nie. Jy sal daarna sommer baie beter voel en daar sal meer plek in jou kas wees. Vir diegene met kinders wat ‘n magdom speelgoed het, kan dit ook gereeld uitgegooi word. Skenk die spelgoed waarmee jou kind glad nie speel nie aan ‘n kleuterskool of minderbevoorregte kinders saam met jou skoene, klere en ander items wat jy nie gebruik nie. Gaan ook gereeld jou linnekas, handdoeke en medisynekas na om te kyk wat jy kan uitgooi. Veral medisyne, want dit het ‘n vervaldatum. In die kombuis is plastiekbakkies en ou joghurthouers gewoonlik die sondebok.

Dit word meestal net alles in ʼn groot laai of hoek kas gebêre en dit is amper elke keer ʼn stryd om die regte deksel vir die regte bakkie te kry. Maak dus tyd om deur alles te gaan en gooi die bakkies en deksels weg. Doen ook dieselfde met jou ou potte, panne, glase en koffiebekers. Al het dit geen nut vir jou meer nie, kan dit vir ‘n ander persoon baie beteken.

 

Related Articles

Back to top button