News

Skole trek swaar oor wanbetaling van skoolgeld

Terwyl daar uitgesien word na ‘n nuwe skooljaar, is die wanbetaling van skoolgeld vir baie skole ‘n al groter wordende kopseer.  Skokkend genoeg kon net 23% van  openbare skole, en 26% private skole hul begrotings bestuur met die skoolgeld wat hulle kon invorder sedert die Covid-19 pandemie ook sy tol op skole ge-eis het. Dit …

Terwyl daar uitgesien word na ‘n nuwe skooljaar, is die wanbetaling van skoolgeld vir baie skole ‘n al groter wordende kopseer. 

Skokkend genoeg kon net 23% van  openbare skole, en 26% private skole hul begrotings bestuur met die skoolgeld wat hulle kon invorder sedert die Covid-19 pandemie ook sy tol op skole ge-eis het.

Dit beteken dat die oorgrote meerderheid van openbare en private skole hul begrotings moes besnoei omdat skoolgelde nie ge-in kon word nie, en 11% van openbare skole en 9% an private skole selfs gedwing is om hul reserwes te gebruik om uitgawes te kon betaal.

Skole sukkel al meer om finansieël die mas op te kom omdat baie ouers in moeilike ekonomiese tye eerder die afbetaling van skuld of huislenings byhou as om skoolgeld te betaal.

Ook vanjaar sal dit ongelukkig weer die harde werklikheid wees vir baie ouers vir wie dit broekskeur gaan om skoolgelde te betaal met finansiële druk wat al hoe groter word weens die Covid-19 pandemie, en die werkloosheidskoers wat nou reeds op 34,4% staan.

Terwyl openbare skole ouers nog die keuse gee van aansoek vir volle of gedeeltelike kwytskelding van skoolgeld, het ouers van leerders in private skole nie dié opsie nie.

Volgens Michelle Dickens, uitvoerende hoof van die TPN Credit Bureau, word die meeste betaling van skoolgeld in die vierde kwartaal gesien, juis omdat baie skole rapporte terughou as skoolgeld nie betaal is nie, of omdat sommige ouers oor die Desember-tyd bonusse ontvang.

Dickens sê skole maak staat op skoolgeld as inkomste vir hul bedryfsuitgawes en beteken wanbetaling van skoolgelde dat ook skole nie meer hul uitgawes kan betaal nie. Onder die skole wat moes besnoei op hul uitgawes weens gebrekkige invordering van skoolgelde, moes 38%  van private skole van hul permanente onderwysers laat gaan. Altesaam 23%  van private skole het besnoei op die poste van administratiewe personeel, en nog 22% het terreinpersoneel verminder.

Openbare skole daarenteen het nie permanente onderwyses verloor nie omdat die departement van onderwys hierdie onderwysers se salarisse betaal. Altesaam 13% van openbare skole het egter hul administratiewe personeel verminder en tot 38% terreinopsigters afgelê. By openbare skole is tydelike onderwysers en afrigters ook minder gemaak, blyk uit hul navorsing sê Dickens.

Sy sê baie skole het egter nie poste verminder nie, maar salarisse gesny.

Voor die pandemie kon tot ‘n driekwart van ouers skoolgeld betaal, maar sedert die pandemie het navorsing gewys dat net 45% van ouers skoolgelde betaal.

Skole wat goed bestuur word, bestuur gewoonlik ook hul skuldinvorderingsprosesse goed sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Hy sê nie alle skole kies om ouers wat nie betaal nie te laat swartlys, en in sommige gevalle gaan ouers afbetalingsooreenkomste aan met skole.

Hy sê dit is egter ook jammer dat daar steeds ouers is wat luukses prioritiseer bo die betaling van skoolgeld. Dit beteken dat ander ouers op die einde van die dag die las van wanbetalende ouers moet dra.

Suid-Afrika het sowat 23 000 openbare skole. Hiervan hef net sowat 3 081 skoolgeld. Die regering dra minimaal by tot dié skole. Kwintiel 5 skole ontvang byvoorbeeld net R240 per kind per jaar om die skool te bedryf wat ‘n skamele sowat R1 per skooldag is. Dit beteken skole moet die grootste deel van hul inkomste self in deur byvoorbeeld die hef van skoolgelde.

Al meer ouers doen aansoek om kwytskelding van skoolgeld en maak dit die las nog swaarder vir betalende ouers.

Daar is ook ouers wat eenvoudig ophou skoolgeld betaal sonder om aansoek te doen vir kwytskelding.

Die situasie is ‘n enorme krisis vir skole, en waarsku Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), dat die verantwoordelikheid berus by ouers en die skoolgemeenskap om te versker dat skole funksioneel is.

 

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button