NewsNews

Dorp se spog stasiegebou stuk vir stuk weggedra

Dorp se eens spog stasiegebou nou stuk vir stuk weggedra

Parys-stasie het op sy dag onder stasiemeester wyle mnr. Peet van der Poel pryse gewen vir die mooiste stasietuin. 

Net ‘n jaar gelede het Gazette nog berig oor die suksesverhaal van dié treinstasie wat ná jare se hartseer verval, na lang onderhandelings met Transnet, uiteindelik sowat 10 jaar gelede aan die maatskappy Skyrail Edms (Bpk) verhuur is wat as spoorlynspesialiste spoorlyne regdeur die land bou en herstel.

Danksy Skyrail is die gebou met sy ryk geskiedenis toe gerestoureer teen ‘n koste van nagenoeg R300 000 oor ‘n tydperk van meer as ‘n jaar waartydens onder meer al die vensterrame met hout vensterrame vervang is om as hoofkantoor van die maatskappy te dien. Een van min suksesverhale wat ‘n storie vertel het van ‘n era toe treine nog die land vol geloop het.

Maar nou, het Parys se treinstasie weer deel geword van die statistiek van treinstasies in die land wat gestroop en geplunder word sonder hoop op herstel of vervolging.

Sedert Skyrail se hoofkantoor geskuif het en die stasieperseel nie meer deur die maatskappy gebruik word nie, is vandale besig om nou die stasiegebou se dak stuk vir stuk weg te dra. Die vensterrame is ook reeds gebuit.

Toe Skyrail nog die gebou gehuur het, het 24-uur sekuriteit die plundering voorkom, maar nou is daar niks wat plunderdiewe keer nie.

Transnet het in 2001 as deel van sy herstrukturering amptelik die spoorlyn gesluit met Dover wat op die hooflyn was tussen Vereeniging en Bloemfontein. Dié spoorlyn het vier stasies ingesluit, naamlik Weiveld, Calais, Parys en Vredefort.

Vroeër jare was die stasiegebou een van die mooistes in die land met sy gewelaansig wat in 1930 voltooi is.

Related Articles

Back to top button