News

Drie vas ná moord op Vrystaatse boer

‘n Plaaswerker van die 73-jarige mnr. Johan Prinsloo is Saterdag in hegtenis geneem vir sy moord op 30 November en nog twee mans is daarna ook in Kroonstad vir die moord gearresteer. Aldrie is burgers van Lesotho. Wyle mnr Prinsloo wat ook ‘n bemarkingsagent vir Vleissentraal in Kroonstad was, was die oggend om 07:30 op …

‘n Plaaswerker van die 73-jarige mnr. Johan Prinsloo is Saterdag in hegtenis geneem vir sy moord op 30 November en nog twee mans is daarna ook in Kroonstad vir die moord gearresteer.

Aldrie is burgers van Lesotho.

Wyle mnr Prinsloo wat ook ‘n bemarkingsagent vir Vleissentraal in Kroonstad was, was die oggend om 07:30 op sy kleinhoewe buite Koppies saam met van sy werknemers toe ‘n man met ‘n vuurwapen skielik op hom en ‘n werker afgestorm en skote begin skiet het. Mnr. Prinsloo en die werker het probeer vlug, maar nog ‘n skoot is afgevuur wat mnr. Prinsloo noodlottig gewond het. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die ander plaaswerkers kon daarin slaag om te vlug. Die polisie, boere en veiligheidstrukture het hulle na die kleinhoewe gehaas en die omgewing gefynkam vir die vier aanvallers. Hierop is ‘n man volgens polisiewoordvoerder brig. Motantsi Makhele in die veld opgemerk en deur die polisie agternagesit. Die man het egter vanuit die bosse skote met ‘n pistool op die polisie begin skiet, sê Makhele, en is hy in die skietgeveg wat hierop gevolg het, ook noodlottig gewond. Hy was ook ‘n Lesotho-burger.

Verlede week is die 29-jarige Christian van Tonder van Lindley ook koelbloedig vermoor in die Barrage-omgewing.

Volgens brig. Makhele sou Christian geld by die Barrage gaan haal het vir beeste wat hy verkoop het. Christian het met Drakenbergers geboer. Hy sou oënskynlik die veeaankoper  by die Barrage ontmoet het. Sy bakkie is egter later die aand sowat 15km vanaf die Barrage naby die R59 deur ‘n polisiebeampte opgemerk en sy liggaam  in die bakkie gevind met ‘n skietwond in die nek.

Herman van Wyk, skakelbeampte van die Vredefort GPF het ná die twee voorvalle gesê mense moet veral nou baie waaksaam wees met misdaad wat skerp toeneem oor die feestyd. Hy sê mense moet bedag wees op besigheidsrooftogte, huisbrake en ander ernstige misdaad juis in hierdie tyd.  

 

 

   

Related Articles

Back to top button